HALLELUJA

HALLELUJA is ’n Hebreeuse oproep wat beteken “prys vir Ja” (= Jahwe*/Here*).

  1. ‑Dit vorm normaalweg die kern van lofliedere (himnes). Oorspronklik was dit in die Ou-Testamentiese* tyd ’n oproep van ’n voorsanger aan die vergadering/gemeente (Ps 113:1; 117:1; 135:1, ens). Die gemeente het dan bevestigend geantwoord met lofuitroepe. Later het dit ’n selfstandige liturgiese uitroep van die gemeente geword (1 Kron 16:36; Op 19:1-6). Dit speel ’n besondere rol in gebedstaal en liturgie*.   DJ Human
  2. ‑Dit is ook die naam van ’n liederebundel wat vir die eerste keer in 1903 in Suid-Afrika verskyn het. Dit is deur Charles, Andrew Murray sr*1 se vyfde kind, saamge­stel “vir die jeug van Suid-Afrika” om die Kinderharp wat veertig jaar vroeër verskyn het, te vervang. Dit het meer as 361 liedere bevat. Die bundel is dikwels bygewerk en was baie geliefd. Die digter Ingrid Jonker het vertel dat dit die Hallelujaboek is wat haar leer verse skryf het, en sy het – soos ’n hele paar geslagte kinders vóór en ná haar – gou al wat Hallelujalied is, uit die kop geken.
Sidebar