HAMBIDGE, JOAN HELENE

HAMBIDGE, JOAN HELENE (1956–) is op Aliwal-Noord gebore en is ’n letterkundige akademikus (Universiteit van Kaapstad), prosaïs, polemikus en feminis. Sy het ook sowat 20 digbundels gepubliseer (1985– 2015). Sy is skrywer van vier “hygromans” waarvan Judaskus (1998) ’n sterk postmo­dernistiese* aanslag het. Haar gedigte handel hoofsaaklik oor haar persoonlike erva­ringswêreld. ’n Herhalende tema is poësie wat uit ’n gemis voortspruit, waarin ironie as selfverweer aangewend word. Vir haar bring poësie ook woord en dood met mekaar in verband. Die liefde word verbruik en “is” ter wille van die kuns. Dikwels skryf sy uitgesproke lesbiese liefdesverse en sy het ’n belangrike bydrae gelewer tot die Afrikaanse gay*-lektuur. God en godsdiens kom soms in haar digkuns ter sprake, soos in die  slotgedig van haar bundel Ruggespraak (2002), “God is (soos) die internet”: “God is die internet. Soms kliek ons op die adres / en die webruimte kan weens teg­niese probleme nie gevind / word nie. Net soos ons geloof verloor. Tydelik. Dit te­rug­vind / onverwags soos ’n webruimte wat oopmaak, ’n oneindige internet.”

 

Sidebar