HAMMURAPI

HAMMURAPI was die laaste groot ko­ning van die eerste dinastie van die Babilo­niese Ryk* (1792–1750 vC). Hy was ’n knap militêre en administratiewe koning wat die Elamitiese oorheersing van Suid-Mesopota­mië afgewerp het en daarna die Amoritiese hoofstad Mari* (in Noord-Mesopotamië) vernietig het. Tydens Hammurapi se ko­ningskap is Babel* volgens behoorlike stadsbeplanning uitgelê (met strate wat mekaar reghoekig kruis). Ongelukkig het daar min van Hammurapi se oorspronklike uitleg oorgebly omdat Babilon heeltemal herbou is in die eerste millennium met die opkoms van die Neo-Babiloniese Ryk. Tydens Ham­mu­rapi se regering het hy ’n reeks gesofistikeerde wette versamel en uitgereik, wat bekend staan as die Hammurapi-kodeks. Dié kodeks van wette het feitlik elke aspek van die komplekse kommersiële, siviele, maat­skaplike en morele lewe van die Babi­loniërs* gereguleer. ’n Kopie daarvan is deur argeoloë in die stad Susan ontdek. Ham­murapi se kodeks het aansienlike lig gewerp op die oorsprong en aard van wette en regspraktyke in die Ou Nabye Ooste. Dit is daarom ’n belangrike bron van verwy­sing en vergelyking vir geleerdes wat die wetkorpus van die Ou Testament* bestu­deer.

Sidebar