HÄNDEL, GEORG FRIEDRICH

HÄNDEL, GEORG FRIEDRICH (1685–1759) is in Halle (Duitsland) gebore. Teen sy pa, wat wou gehad het dat sy seun ’n regsgeleerde moes word, se sin, het hy musiek begin studeer. As 21-jarige is hy na Italië waar hy as solis (viool en klawesimbel) roem verwerf het. Terug in Duitsland is hy as kapelmeester van die keurvors van Hannover aangestel. Met verlof van die keurvors, George von Brunswick, is Händel na Londen, waar hy sy operas met groot sukses uitgevoer het. Toe hy Londen ’n tweede keer besoek het, het hy hom die ernstige onguns van sy keurvors op die hals gehaal omdat hy nie aan die einde van sy verloftyd wou terugkeer na Duitsland toe nie. Sy probleme het vererger toe die Engelse koningin sterf en die einste George von Brunswick as nuwe koning van Enge­land gekroon is! Händel het egter met die pragtige Watermusiek, wat hy vir een van die koning se prosessies op die Teems­rivier gekomponeer het, George se guns herwin. In Engeland het hy die spelling van sy naam en van soos volg verander: George Frideric Handel. Händel het hom later in sy lewe veral aan die komponeer van oratoriums gewy: Saul, Israel in Egipte, Simson, Judas Makkabeus, Josua, Salomo, en ander. Sy gewildste oratorium is sy Messias-oratorium, met sy aangrypende arias en kore. Wanneer die “Halleluja” gesing word, staan gehore vandag nog op om – soos die Engelse koning die eerste keer gedoen het – met geboë hoof te luister. Die aangrypende Paaslied, “Jesus, ons eer U, opgestane Heer” (Lied 417 in die Liedboek van die kerk) kom uit die Judas Makka­beus-oratorium.

 

Sidebar