HANDELINGE VAN DIE APOSTELS, DIE (BYBELBOEK)

HANDELINGE VAN DIE APOSTELS, DIE (BYBELBOEK). Saam met die Lukas-Evangelie* is Handelinge een van twee werke wat Lukas* aan Teofilus* (Hand 1:1) geskryf het. Ondanks spekulasies, weet ons nie wie Lukas en Teofilus was nie. Die teks werp min lig op hulle identiteit. Gedeeltes waarin die skrywer van hom en Paulus* as “ons” praat, dui volgens sommige geleerdes daarop dat hy dalk ’n medewerker van Paulus was (bv Hand 20:5-6). Maar die skrywer kon van bronne gebruik gemaak het (sien Luk 1:1-4). Volgens die meerderheid navorsers is Han­de­linge in 80–85 nC geskryf.

Die Lukas-Evangelie beskryf Jesus* se aardse lewe tot met sy hemelvaart* (Hand 1:1), waar Handelinge die verhaal hervat. Soms word dit weens die besondere fokus op die apostels* as die “Handelinge van die apostels” beskryf. Maar feitlik net Petrus*, Jakobus* en Paulus se werk word bespreek. Dit word ook as die “Boek van die Heilige Gees*” beskou vanweë die prominensie van die Pinkster*gebeure (Hand 2) en van die Gees (Hand 1:4; 13:2, 9; 15:28) wat op kritieke tye uitgestort word (Hand 8:17; 10:44). Die Gees word ten nouste ver­bind met Jesus as verhoogde Here* (bv Hand 16:8) en Jesus is telkens in die verhaal aktief: Hy verskyn aan Stefanus* (Hand 7:56) en aan Paulus (Hand 9:5). Die boodskap van die boek handel dus oor die verhoogde Here wat in en deur die Gees die evangelie* na die heiden*nasies stuur.

Die evangelieverkondiging aan die heidennasies word geografies beskryf (Hand 1:6-8) vanaf Jerusalem* na die omliggende Judea* en Samaria* (Hand 8:1) en dan na belangrike stede soos Sesarea* (Hand 10) en Klein-Asiatiese stede soos Atene* en Efese* as twee brandpunte. Vanaf Hand 9, maar veral vanaf Hand 13, verskyn Paulus op die toneel as sendeling* onder die heidene, hoewel dit Petrus was wat eerste na die heidene toe gegaan het. Op kritieke oomblik­ke word verduidelik waarom die evangelie nou na die heidennasies gaan (Hand 9:15; 11:1, 18; 13:44-52).

Tog werk die apostels ook onder Jode* (Hand 14:1; veral 17:2 ens) wat ’n onlangse hipotese dat Lukas anti-Joods sou gewees het, bevraagteken. Lukas skryf aan sy heidense lesers oor die wil en gang van God in Jesus tot die wêreldnasies (Hand 1:7). God se beloftes* (Hand 2:16) word bevestig. God is dus betroubaar en sal daarom ook nie die Jode verwerp nie omdat hulle ook nog tot geloof kan kom (Hand 14:1; 17:4, ens). Vir Lukas gaan dit nie oor die óf nie, maar oor die hóé heidene in die nuwe gemeenskap van God hoort. Onnodige eise soos die besnydenis* mag nie aan hulle ge­stel word nie (Hand 15).

Ander teorieë meen Lukas wou deur Handelinge wys hoe onskadelik die Chris­tene* vir die Romeinse staat* was, óf hy wou Christene* maan om nie die staat te vrees of te verwerp nie. Sommige beweer dat Han­de­linge nie ’n betroubare historiese teks is nie, omdat daar heelwat verskille met ander Bybelboeke is (vgl Hand 15 met Gal 2). Al is dit waar dat Lukas die materiaal duidelik volgens sy eie perspektief aan­ge­bied het, pas die boek goed in sy tyd in en het dit ’n geloofwaardige karakter.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Sidebar