HANDOPLEGGING

HANDOPLEGGING. Die oplegging van hande op ’n persoon is ’n handeling wat aandui dat daar iets aan die ander oorgedra word. Jesus* het sy hande op siekes gelê en so genesing oorgedra (Mark 8:25). Die apos­tels* het die hande opgelê by die aan­stelling in die kerklike ampte van diaken* (Hand 6:6), van ouderling* (1 Tim 4:14) asook van die ouderling met opdrag om te leer en te preek (2 Tim 1:6). Die handoplegging is ’n simboliese gebaar waar die gawes* van die Heilige Gees* aan gelowiges oorgedra word (Hand 8:17), en by die bevestiging in ’n kerklike amp* die toerusting van die Gees met die genadegawes vir die besondere dienswerk (1 Tim 4:14; 2 Tim 1:6-8, 13-14).

In die Katolieke Kerk* het die biskop* deur die handoplegging aan die ander gees­te­likes die onmisbare ampsgenade oor­ge­dra. Die Hervorming* was meer terug­hou­dend en het dit slegs toegepas by die eerste bevestiging (of ordening) van ’n pre­di­kant*. In die Skotse kerk is in 1578 besluit om ook die ouderlinge met handoplegging te bevestig. Dit geskied steeds in die Pres­biteriaanse* tradisie.

Dit behoort in gereformeerde* kerke oorweeg te word om die bevestiging van ouderlinge en diakens ook met handoplegging te laat plaasvind.

 

Vir verdere lees: AC Barnard 1982. Die Erediens. Pretoria: NG Boekhandel.

 

Sidebar