HANEKOM, TOBIAS NICOLAAS (TOBIE)

HANEKOM, TOBIAS NICOLAAS (TOBIE) (1906–1985), gebore in die distrik van Keimoes, het sy skoolopleiding op Kakamas en Stellenbosch ontvang. Hy word student aan die Universiteit van Stellenbosch om hom as predikant* te be­kwaam. Daarna vertrek hy na die Vrije Universiteit* van Amsterdam in Nederland waar hy die doktorale eksamen in die kerkgeskiedenis* en kerkreg* aflê. Hy word in 1934 gelegitimeer (Kyk by: Legitimasie). Hy het die NG gemeentes De Nieuwe Kerk, Kaapstad (1936) en Stellenbosch (1937) bedien en in 1946 assistent-redakteur van Die Kerkbode* geword. Toe dié blad in 1949 sy 100-jarige bestaan gevier het, het Hanekom die voorafgaande eeu in ’n feesuitgawe kenmerkend deeglik in oënskou geneem. Oor apartheid* het hy in ’n hoofartikel in Die Kerkbode van 22 Sept 1948 geskryf: “As kerk het ons (…) steeds doelbewus aangestuur op die skeiding van hierdie twee volksgroepe (wit en swart). In hierdie opsig kan daar met reg gepraat word van apartheid as ’n kerklike beleid.”

Hanekom is in 1960 bevestig as professor in die ekklesiologie (kerkgeskiedenis en kerkreg) aan die Teologiese Kweekskool*, Stellenbosch. Hy het ook vir ’n termyn gedien as aktuarius* van die Wes-en-Suid-Kaapse sinode*. Sy grootste bydrae was op die terrein van Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis waar hy etlike belangrike publikasies die lig laat sien het, soos Die liberale rigting in Suid-Afrika (1948) en Helperus Ritzema van Lier (1960). Hy was ook die redakteur van Ons Nederduitse Gerefor­meer­de Kerk: Gedenkboek by ons derde eeufees, 1952.

Sidebar