HANNINGTON, JAMES

HANNINGTON, JAMES (1847–1885) is in Sussex, Engeland, gebore. Hy was nie ’n goeie leerder nie, en is op 15 uit die skool om by sy pa te gaan werk. Hy het later by ’n universiteit ingeskryf omdat hy ’n Anglikaanse* priester*2 wou word, maar dit was ook ’n mislukking. Sy ma se dood in 1872 het by hom ’n groot omwenteling ver­oorsaak. Binne ’n jaar het hy sy BA verwerf en is as diaken*2 georden en na ’n klein gemeente in Devon gestuur.

Gedurende 1882 het hy verneem van twee sendelinge* wat op die oewer van die Victoriameer in Kenia vermoor is. Hy het homself as sendeling aangebied en het later daardie jaar as die hoof van ses sende­linge na Zanzibar vertrek. Sendingwerk het in die 1870’s begin met die goedkeuring en seën van koning Mutesa. Hannington het egter koors en maaggriep ontwikkel en moes terug Engeland toe. Nadat hy herstel het, is hy die volgende jaar as biskop* van Oos-Ekwatoriaal-Afrika aangestel. Hy het weer in 1885 in Kenia aangekom en besluit om hom eers toe te lê op die maak van ’n pad na Uganda. Toe koning Mwanga II van Buganda, seun en opvolger van koning Mutesa, daarvan te hore kom, het hy gelas dat die Busoga-kapteins hulle moet arresteer, want hy het alle buitelanders met agterdog bejeën. Ná agt dae het die koning beveel dat die sendelinge almal doodgemaak moet word. Terwyl Hannington van beide kante met spiese deurboor is, sou hy gesê het: “Ek het nou die pad na Uganda met my bloed gekoop.” Joseph Mukasa*, ’n Katolieke* priester aan die koning se hof, het die koning se optrede gekritiseer en hy is onmiddellik deur die koning onthoof. Gedurende die volgende jaar het koning Mwanga 32 mans en seuns (22 Katolieke en 10 Anglikane) op brandstapels laat sterf. Die meeste van hulle was lede van sy huishou­ding: van die hoof van die hof, Charles Lwanga, tot die 13-jarige Kizito*.

 

Sidebar