HART

HART se Hebreeuse* woord, leb, lebab, beteken binneste, middelpunt. Hart word selde vir dinge gebruik (wel tog by “in die hart van die see”, Jona 2:3). Die hart is in die Ou Testament*: 1. Gewoonlik die innerlike middelpunt, in teenstelling met die uiterlike van die mens (Ps 73:13, 26, 1933/1953-Afrikaanse Vertaling). As orgaan is die hart die setel van krag en liggaamlike lewe (Ps 38:11). Daarom versterk kos die hart (Gen 18:5). 2. Die innerlike mens, in die sin van siel*, verstand, gevoel, wil (Deut 6:5; 1 Sam 7:3; 1 Sam 21:13, Spr 4:23 1933/1953-verta­ling; 1 Kron 29:18).

In die Nuwe Testament* gee “hart” (Grieks*: kardia) die innerlike lewe, die persoonlikheid en die plek waar God Homself aan die mens openbaar, duideliker weer as in die Ou Testament. Die hart is in die Nuwe Tes­ta­ment: 1. Die setel van die fisieke lewe en van die siel van die mens, want lig­gaam* en siel is een. “Hart” verwys selde na die orgaan. Gewoonlik beteken dit die setel van die innerlike lewe in teenstelling met die uiterlike lewe (2 Kor 5:12). Die hart is die ego. Daarom setel gees, rede en wil (2 Kor 9:7) in die hart, maar ook siel, gevoelens en instinkte (Matt 5:28). 2. Die middelpunt van die geestelike lewe, deur God aangespreek (Rom 5:5).

Sidebar