HATTINGH, DIEDERIK JOHANNES (DIRK)

HATTINGH, DIEDERIK JOHANNES (DIRK) (1926–) ontvang sy teologiese opleiding op Stellenbosch. Hy bring as jong predikant 17 maande in die hospitaal deur met tering en dien daarna as hospitaalle­raar. Die NG gemeentes wat hy bedien het, is Cedarville, Standerton-Wes, Heidelberg Transvaal, en vanaf 1965 tot met sy aftrede in 1992 Stellenbosch-Welgelegen.

Sy aandeel aan bouwerk is indrukwek­kend: die koshuis en kerkgebou op Cedar­ville, die pastorie op Matatiele, die ouetehuis te Standerton, en die pastorie en kerk­gebou te Stellenbosch-Welgelegen. Hy bly studeer en behaal die graad DPhil in filoso­fie. Hy dien in talle kerklike kommissies en lewer groot diens op die terreine van barmhartigheid*, kerkreg*, finansies en pensioene. In die Sinode* van Wes-en-Suid-Kaap­ dien hy as aktuarius* en moderator* en neem tydens die jare van apartheid* ’n gematigd-kritiese posisie in – in daardie tyd ’n tipiese “Kaapse” posisie. Hy en enkele ander leiers van die NG Kerk* help met onderhandelinge met aartsbiskop Desmond Tutu*, dr Allan Boesak* en pres FW de Klerk* sodat lg die eerste vreedsame anti-apartheid-massa-optog einde 1989 in Kaapstad kon toelaat. Op universitêre vlak dien hy as voorsitter van die Huge­note Kollegeraad op Wellington en as lid van die Universiteitsraad van Stellenbosch. Sy vrou, Christerine, neem ’n leidende rol in die vroueaksie van die kerk. Lank ná sy aftrede verskyn in 2010, 2013 en 2014 drie verrassende digbundels van Dirk Hattingh, onder meer oor die ouderdom.

 

Sidebar