HAUERWAS, STANLEY

HAUERWAS, STANLEY (1940–) was professor in Christelike etiek* aan die Duke Divinity School, Universiteit van Duke, in Durham, Noord-Carolina. Hy is ’n teoloog* in die metodistiese* tradisie wat onder die invloed is van denkers uit verskillende tradisies, onder andere die Katolieke*, mennonitiese en gereformeerde* tradisies. Hy is die belangrikste verteenwoordiger van die sg postliberale, oftewel narratiewe of deugdebenadering tot etiek. Hy is in 2000 genooi om die beroemde Gifford-lesings in Skotland te lewer. Hy het sy deugde-bena­dering tot etiek ontwikkel onder invloed van denkers soos Alis­dair MacIntyre, Charles Taylor, Karl Barth*, John Howard Yoder en Hans Frei. Hauerwas beklemtoon dat dit in die morele lewe oor méér gaan as net die neem van regte besluite op outonome en rasionele grondslag. (Kyk by: Morele besluitneming.) Hy argumenteer dat morele keuses afhanklik is van die soort morele visies wat ons koester, die soort ka­rak­ters wat ons is, die narratiewe waar­deur ons gevorm word, en die geloofsgemeenskappe aan wie se lewe ons deelneem. Hauer­was word onthou vir die stelling: “Die kerk* het nie ’n sosiale etiek nie, maar is ’n sosiale etiek.”Hierdie stelling verwoord die hart van Hauerwas se etiese projek, nl dat etiek nie in die eerste plek ’n saak van keuses en dade is nie, maar van identiteit en karakter. Van Hauerwas se belang­rikste werke is: Character and the Chris­tian life, The Peaceable Kingdom en With the Grain of the Universe: The Church’s Witness and Natural Theology.

Vir verdere lees: RR Vosloo en DJ Smit 1995. “Verhaal en moraal: Enkele metodologiese opmerkings oor die narratief-etiese benadering van Stanley Hauerwas” in: NGTT 36, 583-592.

Sidebar