HAYDN, JOSEPH

HAYDN, JOSEPH (1732–1809) het, toe hy 8 jaar oud was, reeds as koorlid in die keiserlike paleis en in die katedraal in Wenen opgetree. Toe sy stem breek, is hy uit die koor ontslaan en moes hy jare lank ’n sukkelbestaan voer totdat hy uiteindelik as kapelmeester van die Esterházy-familie te Eisenstadt (in Hongarye) benoem is en as komponis tot sy reg gekom het. Vir 30 jaar het “Pappa” Haydn in Esterháza gewoon en gewerk. Beethoven* het groot respek vir hom gehad en selfs by hom les gekry. Mozart was een van sy groot vriende en jare lank kon hulle mekaar se werk beïnvloed en verryk. Hy het twee keer lang tydperke in Engeland deurgebring (1791–1792 en 1794–1795) en van sy gewildste simfonieë is in dié tyd gekomponeer. Haydn het ’n bykans ongelooflike musiekskat nagelaat: 104 simfonieë, 83 strykkwartette, 52 klaviersonates, 20 operas en baie liedere. Gedurende die laaste jare van sy lewe het Haydn veral aandag aan kerkmusiek gegee en 14 misse – onder andere sy gewilde Heiligenmesse en Nelson-mis – gekomponeer. Vier oratoriums, onder andere Die Skepping en Die Seisoene, het uit sy pen gevloei. Dit is veral Die Skepping-oratorium wat deur die eeue gewild gebly het. Dit gebeur vandag nog dat applous spontaan losbars wanneer die beroemde frase “En daar was lig” gehoor word. Talle kerkkore, ook swart kore (dikwels sonder begeleiding), sing graag die “Die hemele verkondig …”, uit dié orato­rium.

Sidebar