HEBREËRS (BYBELBOEK)

HEBREËRS (BYBELBOEK) is waar­skyn­lik nie ’n brief* nie, aangesien die ti­piese briefaanhef ontbreek. Dit eindig wel soos ’n brief (13:22-25), is bedoel as bemoe­diging (13:22) en is eerder ’n preek.

Skrywer: Hy is aan ons onbekend. Origenes skryf dat “God alleen weet wie die skrywer van Hebreërs is”. Sommige meen dit is Paulus*, maar die taalgebruik, teologiese strekking, kultiese aard en ontbre­kende skrywersnaam getuig daarteen. Ander spekulatiewe voorstelle word ge­maak, maar daar bestaan geen voldoende bewyse nie. Die karakter van die skrywer kom sterk na vore wanneer hy doelbewus anoniem bly – soos ook die menslike outeurs van sy aanhalings uit die Ou Testament*. God, wat die eintlike Outeur is, se boodskap staan voorop.

Lesers: Die opskrif is later toegevoeg en die geadresseerdes is onbekend. Dit is tweede geslag Christene (2:3) en op grond van Heb 13:24 (en Klemens van Rome se kennis van die boek) word aanvaar dat dit moontlik aan ’n huisgemeente (Heb 3:6; 10:21, 32-34) in Rome* gerig is. Die sterk Ou-Testamentiese agtergrond dui op Joodse* lesers, en die goeie Grieks* op Grieksspre­kende Joodse Christene* buite Palestina*. Die skrywer is goed bekend met die lesers se omstandighede (Heb 2:2-4; 5:11-14; 6:9-11; 10:32-34; 12:4; 13:7).

Ontstaansplek: Hebreërs is waarskynlik in Aleksandrië (Egipte*) geskryf. Die goeie Grieks, gebruik van dieselfde ou weergawe van die Septuaginta* as wat Filo van Aleksandrië gebruik het, en ooreenkomste met die teologie* en die aanhalings van Qumran*, dui waarskynlik op ’n bekeerling uit die sg “Terapeute” aldaar van wie Filo skryf.

Datering: Sommige geleerdes dateer die boek vóór 70 nC, maar die Skrif*gebruik, ge­vorderde Christologie*, engele*leer, moontlike kennis van ander Nuwe-Testamentiese* geskrifte en die feit dat die lesers reeds ’n geruime tyd gelowiges* was, dui eerder op 80 tot 96.

Taal en styl: Hebreërs maak van ’n hele aantal retoriese stylfigure gebruik en is in die beste Grieks in die Nuwe Testament ge­skryf. Sommige woorde is doelbewus dub­belsinnig en baie woorde kom net in He­breërs en nêrens anders in die Nuwe Testa­ment voor nie. Dit impliseer dat skrywer en lesers Griekssprekend en geletterd was. Die boek toon ’n weldeurdagte struktuur waarvan ’n reeks Ou-Testamentiese aanhalings die ruggraat vorm.

Skrifgebruik: Die meeste en langste aanhalings uit die Ou Testament kom hier voor en stem ooreen met Septuaginta-weerga­wes. Die meeste word reeds in die Dooie See-rolle* aangehaal. Die helfte kom uit die Psalms*, en die res uit die profete* en die tora*. Die tora-aanhalings stem ooreen met Filo se Septuaginta-weergawe. Skrifgesag* staan sentraal en die aanhalings word ge­gee as geïnspireerde Woord van God*.

Boodskap: Hebreërs word geskryf om ’n skewe beeld van Christus* reg te stel. Hy is beter as die engele (Heb 1:5-14), Moses* (3:1-6), Aäron* (5:1-10) en die Levitiese pries­ters* (7:1-28). Sy offer* is beter as dié van die ou heiligdom (9:1-14), en sy verbond* is beter as die eerste verbond (8:7-13; 9:15-22; 12:24). Hebreërs is ook geskryf om gelowi­ges te bemoedig om te volhard* in hulle geloof* (2:1; 3:6, 14; 10:23) en nie weer afvallig te word tot die Jodedom nie (Heb 6; 10).

 

Sidebar