HEDONISME

HEDONISME is die standpunt in die etiek* wat aanvoer dat plesier die belang­rikste waarde in die wêreld is, en dat die vraag watter handelinge moreel (Kyk by: Moraal) geregver­dig is, beantwoord kan word deur te verwys na dié handelinge of optredes wat die meeste plesier verskaf. Die morele regver­digbaarheid van ’n daad word volledig be­paal deur die gevolge van die daad, en nie deur een of ander “eienskap” van die daad, soos byvoorbeeld dat die daad ’n etiese reël oortree nie (bv “jy mag nie steel nie”). Hedonisme kom vir Jeremy Bentham en Carl Welman veral ter sprake wanneer gevra word: Watter gevolge van ’n daad is die beste gevolge? Hierop antwoord Ben­tham en ander:  Dáárdie dade wat die meeste plesier vir die meeste mense verskaf. Die argument in hierdie verband is dat morele waarde nie losgemaak kan word van die een of ander vorm van ervaring nie, en dat plesier daardie ervaring ten beste uitdruk.

Die probleem met hierdie siening is dat mense tog ook, om onbetwisbare morele redes, kies om dinge te doen wat weinig plesier inhou, bv om te ly vir hulle oortuigings of om ander mense in baie moeilike en gevaarlike omstandighede in nood te hulp te snel.

Vir verdere lees: Carl Welman 1975. Morals and Ethics. Glenview: Scott, Fores­man and Company.

Sidebar