HEGEL, GEORG WILHELM FRIED­RICH

HEGEL, GEORG WILHELM FRIED­RICH (1770–1831). Hegel was die invloedrykste denker van die Duitse idealisme. Die dialektiese materialisme (Marx*), en die eksistensiefilosofie (Kierkegaard) het hulle vertrekpunt in die verset teen Hegel. Waar Kant* die mo­derne natuurwetenskapsideaal ondergeskik gestel het aan die persoonlikheidsideaal van outonome menslike vryheid, het Hegel die sg (absolute) vryheidsidea­lisme in ’n logistiese sin deurgevoer (logiese begrippe konstitueer wat dinge is). Aan die spits van sy denke staan die “Absolute Gees” en die weg daarheen sluit ’n logika en dialektiek in wat oor teenstellings heen die uiteindelike doel van die identiteit van werklikheid en rede bereik. Sy idee van dialektiek sluit aan by die aard van elektrisiteit (positief – negatief – vonk / tese – antitese – sintese) – ’n gedagte wat ook deur Marx oorgeneem is in sy siening van die klassestryd (tese: adel – antitese: lyf­eienes – sintese: kapitalisme (opnuut tese) – antitese: werkersklas – sintese: werkers­paradys).

Veruitwendig tot natuur, deurloop die Absolute Gees ’n proses vanaf die meganiese, via die fisiese tot by die organiese. Die subjektiewe Gees loop via die siel en bewussyn uit op vryheid, terwyl die objektiewe Gees van reg oor moraliteit na sedelikheid lei. Hoewel die staat* die hoogste realisering van vryheid is, is die mag van die staat onbeperk.

Binne die Absolute Gees beliggaam die dialektiese proses die oorgang van kuns (aanskouing) en godsdiens (voorstelling) tot die filosofie (begrip). Die Idee, die Absolute Gees, besit in vryheid sy hoogste bepaling.

 

Sidebar