HEIDEGGER, MARTIN

HEIDEGGER, MARTIN (1889–1976). Heidegger is een van die invloedrykste, maar ook mees omstrede Duitse filosowe van die 20ste eeu. Sy invloed is te danke aan die feit dat hy die ontologiese vraag na die aard van die werklikheid, wat as pro­bleem in sy tyd in diskrediet verval het, op ’n oorspronklike manier opnuut aan die orde gestel en beantwoord het. Dit gebeur in sy beroemde boek Sein und Zeit wat in 1927 verskyn het. In dié boek toon Heidegger aan dat die vraag na die werklikheid (of “synsvraag”) slegs aangepak en bearbei kan word op grond van ’n analise van dié syn-de wat die vraag aan die orde stel, naamlik die mens (vir Heidegger “Dasein”). Hierdie analise sien die menslike bestaan as ’n syn-tot-die-dood.

Heidegger se omstredenheid spruit voort uit die feit dat hy (aanvanklik) ’n simpatiseerder met die Nazi*-regime in Duisland was, en selfs vir nege maande as rektor van die Universiteit van Freiburg deur die Nazi’s aangestel is, hoewel hy uit dié pos bedank het omdat hy geweier het om twee Joodse professore af te dank. Wat veral omstrede is, is dat hy tot sy dood toe geweier het om die Nazi’s se volksmoord op die Jode* openlik te veroordeel.

Vir verdere lees: Martin Heidegger 1978 in: DF Krell (red). Basic Writings. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Sidebar