HEIDELBERGSE KATEGISMUS

HEIDELBERGSE KATEGISMUS. ’n Kate­­gismus* is ’n oorsig van die vernaamste Christelike leerstukke in die vorm van vrae en antwoorde. Toe Frederik III keurvors word van die Palts, ’n klein staatjie waarin die Duitse universiteitstad Heidelberg geleë is, was daar baie godsdienstige verwarring. Hy versoek toe die jong teologie*professor, Sagarias Ursinus, om ’n kategismus op te stel. ’n Kommissie het dit waarskynlik verwerk tot die huidige vorm waarin dit in 1563 goedgekeur is.

Normaalweg behandel ’n kategismus drie of vier hoofsake: geloof (Twaalf Arti­kels*), gebod (Tien Gebooie*) en gebed (Ons Vader*), plus sakramente* (en tug*). Die Heidelbergse Kategismus het, naas hier­die tradisionele sake, ’n eiesoortige driede­ling gevolg, nl sonde, verlossing en dankbaar­heid: Ek moet weet hoe groot my sonde is, hoe ek daarvan verlos word, en hoe ek God daarvoor dankbaar moet wees.

Die Heidelbergse Kategismus is beroemd vir sy inleidende Vraag en Antwoord 1: “Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.” Die Kategismus is nie net in die objektiewe heilsfeite geïnteresseerd nie, maar ook in die subjektiewe betekenis daar­­van vir ons. So bv Vraag 59: “Maar wat baat dit jou nou dat jy dit alles glo?” Vanweë sy gewildheid is die Kategis­mus in baie tale vertaal, van Wes-Europa deur Afrika tot in die Verre-Ooste.

Die Heidelbergse Kategismus baseer sy antwoorde noukeurig op die Bybel* self. Dit gee in 127 antwoorde ’n uiteensetting van hoe gereformeerde* Christene die Bybelse leer, soos saamgevat in die twaalf artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis, verstaan. Dit behandel ook in detail die wet* van God as reël van ons Christelike lewens­wandel uit dankbaarheid, en leer ons aan die hand van Jesus* se Ons Vader-gebed hoekom en hoe ons moet bid.

Vir verdere lees: WD Jonker 1996. Bevrydende waarheid – Oor die belydenisskrifte. Wellington: Hugenote-Uitgewers

 

Sidebar