HEIDENE

HEIDENE is ’n vertaling van die He­breeu­se woord gojim, wat letterlik “nasies” of “volke” beteken. Naas hierdie algemene be­te­kenis, kry dit in die loop van die Ou-Testamentiese* heilsgeskiedenis (Kyk by: Heil) ’n bepaalde godsdienstige geladenheid. Teenoor Israel* as volk (’am) van God, staan die nasies met hulle eie afkeurens­waardige gode (2 Sam 7:23). Die nasies word geteken as mense wat in noodlottige hoogmoed die grens tussen God en mens oorskry in ’n proses van selfvergoding (v­g­l Eseg 28:2-10). Die heidendom soek veiligheid in eenheid en gemeenskap met die kosmiese magte*. Maar omdat dié magte sowel bedreigend as beveiligend is, bevat die heidendom ’n sterk element van angs. Dit probeer gevolglik om dié magte tot eie voordeel te onderwerp. Hiervoor ge­bruik hulle uiterlike tekens soos beelde en amulette (Jes 40).

In Rom 1:18-32 teken Paulus hierdie versinneliking as een van die oersondes van die heidendom. Die heidendom ken ook nie egte skuldbelydenis nie. Dit beweeg voort­durend tussen naamlose angs en hoogmoedige selfhandhawing in ’n poging tot selfverlossing. In dié sin is dit “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Ef 2:12). Maar God roep hulle tot bekering* soos wat Hy steeds sy eertydse volk tot bekering roep (Rom 1:16).

Sidebar