HEILIGE ROMEINSE RYK

HEILIGE ROMEINSE RYK is ’n bena­ming uit die tweede helfte van die 15de eeu om die destydse Duitse Keiserryk mee te beskryf. Dié ryk het sedert 962 onder verskillende benamings bestaan. Dit het min of meer die huidige Duitsland, Oostenryk, Switserland, Lichten­stein, België, Neder­land, Luxenburg, die Tjeggiese Republiek, Slovenië, Wes-Pole, Wes-Kroasië, die oostelike deel van Fran­kryk, en sentrale dele van Italië beslaan. Die benaming sluit aan by die persepsie wat oor die ou Romeinse wêreldryk bestaan het, naamlik ’n ryk van orde, vrede en welvaart. Verbind hieraan is ook die gedagte van ’n “Christusryk” waarin die Christelike volke opgeneem is met die pous* as geestelike leier en die keiser* as die wêreldlike leier. Oor die onderlinge verhouding van pousdom en keiserskap, dit wil sê kerk* en staat* – waar die een se gesag eindig en die ander een s’n begin – was daar meermale ernstige verskille. Ook in moderne tye in Europa en in die res van die wêreld het dit al tot groot spanning gelei. Napoleon* se oorwinning in 1806 oor Oostenryk het ’n einde aan hierdie Ryk gebring.

Sidebar