HEILIGE SKRIF

HEILIGE SKRIF. Christene in die gerefo­rmeerde* tradisie glo dat die Heilige Skrif (die Bybel*) die Woord van God is. Dit word “heilig”genoem omdat God in ’n baie besondere sin as die oorsprong daarvan gesien word en dit daarom anders is, afgesonder is, van ander geskrifte en toegewy is aan God (Kyk by: Heilig; Heiligheid). Die Heilige Skrif is nie ’n versameling van die hele besondere openba­ring* soos dit deur die loop van die eeue plaasgevind het nie. God het baie meer aan mense geopenbaar as wat in die Bybel staan. Wat in die Bybel neergeskryf is, bevat egter alles wat vir mense van alle tye noodsaaklik is om te weet tot hulle salig­heid. Wie dit ook al lees, kan aanvaar: Dit is God se Woord vir hom of haar.

Behoudende gere­for­meerdes* sê soms dat die Heilige Skrif woordeliks (verbaal) geïnspireer is, maar so ’n stelling moet sterk gekwalifiseer word. Die inhoud en vorm van die Bybel kan nie van mekaar geskei word nie. Daarom moet ons sê dat die woorde slegs geïnspireerde woorde binne ’n bepaalde konteks is. Die Heilige Gees* het die skrywers gelei om so te formuleer dat sy bedoeling deur dit wat hulle neergeskryf het, gedra kon word, nie in ’n meganiese of outomatiese sin nie, maar so dat hulle as mense met ’n eie persoonlikheid en leefwêreld die middel geword het waardeur die Gees dit kon doen.

In die gereformeerde teologie* word veral na vier eienskappe van die Skrif verwys: gesag, noodsaaklikheid, duidelikheid en genoegsaamheid.

Die gesag van die Bybel is geheel en al afhanklik van sy eintlike oorsprong. Dit is God se Woord, en daarom dra dit sy gesag in homself (die outopistie van die Skrif). Dit haper wel meermale aan ons verstaan van God se Woord. Daardeur kom die gesag daarvan egter nie in die gedrang nie. Die gesag van die Bybel kan natuurlik nie bewys word nie. Dit bly ’n saak van geloof*. Dieselfde Heilige Gees wat die Skrif in die eerste plek geïnspireer het, oortuig ook van sy gesag (Joh. 14:23-26; 16:13).

Al is dit soms moeilik om sekere dele van die Bybel te verstaan, is die Skrif tog duidelik en verstaanbaar genoeg oor die sake waarop dit werklik in die geloof aankom. Die Bybel dien homself aan as God se openbaring* vir alle mense. Deur ’n vergelyking van Skrifgedeeltes met mekaar, kan daar in die meeste gevalle duidelikheid gekry word oor gedeeltes wat oënskynlik moeilik en onverstaanbaar is.

Daar moet duidelik onderskei word tussen die noodsaaklikheid van openba­ring, en die noodsaaklikheid van die Skrif, omdat die Skrif ’n bepaalde vorm van God se geopenbaarde Woord is. Vir duisende jare was daar geen Bybel nie, en daarna was dit vir baie eeue in onvoltooide vorm teenwoordig. Die kerk* het ’n betroubare bron van die waarheid nodig gehad. Dit is die manier waarop God sou verseker dat daardie deel van die besondere openbaring wat Hy vir sy kerk tot aan die einde van die tyd wou beskerm en bewaar, ’n blywende vorm kry. Die Bybel is noodsaaklik omdat dit ’n baie bepaalde doel in God se handelinge met die mens het. Dit is gegee om die kerk in die wêreld te bewaar.

Die genoegsaamheid van die Skrif is ’n buitengewoon belangrike eienskap daarvan vir die lewe en werk van die kerk. Toe God se besondere openbaring ’n hoogte­punt bereik het in die persoon en werk van Jesus Christus*, het die tyd aangebreek om dit alles in een Boek/Bundel saam te bring. Al wat nog gedoen moes word, was dat die apostels* alles wat hulle van Christus onder die leiding van die Heilige Gees ontvang het, op skrif moes stel. Spoedig daarna het die vroeë kerk ook tot die gevolgtrekking ge­kom dat alles wat God aan die kerk as sy geskrewe Woord wou gee, inderdaad saamgebring is. Die kanon* van die Ou-* en Nuwe-Testamentiese* geskrifte is klaarblyklik daarmee afgesluit.

(Kyk ook by: Bybel; Bybel: Mondelinge oordrag en teboekstelling; Bybelse norme; Bybelvertalingmetodes;  Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifgesag; Skrifuitleg; Teksuitleg; Teopneustie.)

 

 

Sidebar