HEILIGHEID

HEILIGHEID. Wanneer iets of iemand “heilig”* genoem word, word bedoel dat so iets of so een afgesonder is van die sondige of die gewone en toegewy is aan God. In dié sin word bv die sabbat* as heilig beskou. God self is heilig in die mees volstrekte sin van die woord. Dit wil sê dat God uniek, onvergelyklik, anders as die (af)gode, enig in sy soort, transendent is. Omdat God as die Heilige “gans anders” is, stoot Hy ons, om so te sê, af, maar trek Hy ons terselfdertyd ook aan. God hou sy heiligheid nie vir Homself nie, maar deel dit met ander. Hy noem sy volk “’n gewyde (dit wil sê heilige) nasie” (Eks 19:5-6) en sê vir hulle: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig” (Lev 19:2). Dieselfde beskrywing word in die Nuwe Testament* op die kerk* van Christus* toegepas (bv in 1 Pet 1:15 en volgende verse; 2:9). Dat gelowiges “heiliges” genoem word, beteken nie dat hulle sondeloos is nie, maar dat hulle toegewy is aan die diens van God in al die fasette van hulle lewe. Hulle word in Christus, die Heilige van God (Op 3:7), geheilig. (Kyk ook: Onheilig.)

Sidebar