HEILSFEIT

HEILSFEIT is die gebruiklike woord in die teologie* vir die onderskeibare aspekte van die heil* in Christus* soos wat die open­baring van die heil histories plaasgevind het. Hierdie historiese heilsfeite, ook genoem die groot dade van God in die geskiedenis (Hand 2:11), vorm die hart van die verkondiging van die evangelie* en is vir die Christelike geloof* van fundamentele betekenis. Hierdie heilsfeite is Jesus* se geboorte, sy lyding* en sterwe* aan die kruis*, sy opstanding* en hemelvaart*. Wan­­neer Paulus* rekenskap gee van die evan­gelie wat hy ontvang het en verkondig, voeg hy ook nog Jesus se begrafnis by as bewys van sy dood*, en sy verskynings as bewys van sy opstanding (1 Kor 15:1-8, vgl ook 1 Tim 3:16). Alhoewel die historiese verifieerbaarheid van hierdie heilsgebeure dikwels in die verlede uit verskillende hoeke onder die soeklig van wetenskaplikes gekom het, bly dit steeds die kern van die Christelike evangelieverkondiging. Sommige Christendenkers meen dat ’n mens moet onderskei tussen wetenskaps­kennis en geloofskennis, elkeen in sy eie reg.

Sidebar