HEILSGESKIEDENIS

HEILSGESKIEDENIS. Met dié term word die inhoud en bedoeling van die Bybel* aangedui. Eintlik is dit ’n samestel­ling van twee woorde, naamlik “heil” (verlossing, saligheid) en “geskiedenis”. In die Bybelwetenskappe is dit ’n tegniese term, na aanleiding van die Duitse Heilsge­schichte, waarvolgens die heilsplan van God gesien word as die onderliggende teo­lo­giese beginsel of motief om die hele Bybel mee te lees. Die veronderstelling is dus dat God besig was en is om die verlos­singswerk te verwesenlik en dat díe verlos­sing die eenheid agter die uiteenlopende boeke en stowwe van die Bybel bied. Die klem val dus in hierdie benadering op die heil van die mens soos dit in die geskiedenis gerealiseer het deur die koms van Jesus Christus* na hierdie wêreld en die groot heilsgebeurtenisse van sy menswording*, kruisiging*, opstanding*, hemelvaart* en die uitstort van die Heilige Gees*.

In sommige kringe word die term heilsgeskiedenis in dieselfde sin as openbarings­geskiedenis (Kyk by: Openbaring) gebruik. Daar kan egter ook geargumenteer word dat dié twee begrippe mekaar nie ten volle dek nie. Die Bybel is wel ’n religieuse boek waarin God Homself in Christus* openbaar en soveel bekend maak as wat nodig is vir die saligheid van hulle wat in Christus glo. Die Bybel is dus nié ’n wetenskaplike handboek nie. Tog gaan dit in die Bybel ook oor méér as die saligheid (heil) van hulle wat aan God behoort. Hy openbaar ook soveel as wat nodig is tot sy eer. Dit gaan in die Bybel in die eerste plek oor God en sy eer, sy almag en heerlikheid as die enige ware God, soos God Homself in sy dade in die geskiedenis openbaar. Die gebruik van die term heilsgeskiedenis hou dus die gevaar in dat die klem verskuif van God en sy eer, na die mens en sy heil. (Kyk ook by: Heilshistories.)

Sidebar