HEILSHISTORIES

HEILSHISTORIES is die siening dat God die heil* wat Hy bewerk, histories deur ’n reeks dade in die geskiedenis verwesenlik. Die belangrikste voorstander en ontwikkelaar van die heilshistoriese benadering, Oscar Cullmann*, sien die heilsgeskiedenis as ’n horisontale tydlyn en ontwikkel dit as ’n duidelike alternatief vir Bultmann* se antropologiese/eksistensiale benadering. Dit begin by die skepping en eindig by die voleinding*, met Christus* in die middelpunt. Naas die unieke middelpunt op hierdie lyn – die verskyning*, dood* en opstanding* van Christus – is daar ook verskillende kairos- (waarheids-) momente. Deur progressiewe redusering en die beginsel van plaasbekleding*, begin God met die mensheid, maar wanneer dit faal, kies Hy as plaasvervanger ’n volk, Israel*. Wanneer Israel faal, sit Hy sy werk ná die ballingskap* voort met ’n res/oorblyfsel, plaasvervangend vir die volk. Wanneer ook die res faal, word God se plan verwesenlik met een mens, Jesus* Christus, wat God se plan volbring ten behoewe van “die res”, “die volk” en “die mensheid”. Van Christus af verwyd die heilslyn weer via die kerk* na die hele mensheid. Dit beteken dat enige onderdeel van die geskiedenis telkens in hierdie breër raamwerk geplaas moet word. Die im­plikasie is nie net dat elke gebeurtenis verstaan moet word teen die agtergrond van die groot geheel van God se ingryping in die geskiedenis nie, maar ook dat na die totale werklikheid gekyk moet word uit die perspektief van God se openbaring* van heil in Jesus Christus. Elke kleiner onder­deel pas êrens in hierdie lyn in, en werp ’n bepaalde lig op God se heil in Christus. (Kyk ook by: Heilsgeskiedenis.)

 

Sidebar