HEILSORDE / HEILSWEG

HEILSORDE / HEILSWEG. “Heilsorde” verwys meestal na die gedagte dat ’n aantal ervarings in Christene* se lewe mekaar opvolg in die proses om kinders van God te word: bv eers roeping*, dan we­der­geboorte*, dan geloof*, dan regverdi­ging*, dan bekering*, dan heiliging*. Die bepaalde orde waar­in dit gestel word, word gewoonlik as logies van aard verstaan: dit veronderstel dat, hoewel hierdie ervarings duidelik van mekaar onderskei kan word, dit nooit van mekaar geskei mag word nie. Sommige teoloë beklemtoon dat hulle meermale in­me­kaar vloei en gelyktydig verloop.

Teenoor hierdie volgorde, word die begrip heilsweg (of die weg tot saligheid) gestel as een omvattende heilservaring waarlangs God sondaars* lei om deel te kry aan sy heil*. Die heil het onder andere te doen met geluk, vrede*, die ewige lewe en die nuwe aarde of hemel. Gelowiges* ervaar reeds ’n mate van die heil wanneer hulle in liefdesharmonie met God, hulle naaste*, hulle samelewing en die skepping leef. Reg­ver­diging is byvoorbeeld in hierdie verband die pad waarlangs God die sondaar na Hom toe lei om in die regte verhouding met Hom te staan en sodoende werklik in sy gemeenskap te deel. Hierdie pad sal uit­ein­delik by Christus* se wederkoms* uitloop in die volmaakte gemeenskap met God – iets wat ons nie nou al in die aardse lewe ten volle kan ervaar nie. Die heilsweg lei ons in die heil wat nou al toeganklik is en waarvan ons nou al iets kan beleef.

Die heilsweg kan ook gesien word as een omvattende ervaring: van die oomblik af dat ons God ontmoet, het ons klaar deel aan die heil. Die verskillende begrippe van die heilsweg sê vanuit verskillende gesigspunte hoe God ons laat deel kry aan sy heil.

Sidebar