HEL

HEL 1. Die woord hel, uit Anglo-Saksies (helan, behelian), is verwant aan “hol” of “grot” en beteken “verberg”. Drie woorde in die Bybel* word met hel vertaal.

Die Ou-Testamentiese* sjeool is in die alge­meen die plek van die dooies waar­heen sowel goeie mense (Gen 37:35; Jes 38:10; Ps 30:3, 9) as slegtes (Num 16:33; Job 24:19; Ps 9:17; 31:17) gaan. Dit is ’n diep, donker graf of put met stof, tralies en stilte, waarin die dooies “afdaal”. Dis onversadigbaar en niemand keer terug nie.

Die Nuwe-Testamentiese* hades is soortgelyk, maar is hoofsaaklik ’n strafplek ná die dood*. Dis ’n gevangenis met hekke, tralies en sleutels en dis “onder” geleë. Die vrygespreektes en skuldiges word van me­kaar geskei met eersgenoemdes in ’n deel wat bekend is as die paradys*, of “boesem van Abraham*”. Slegs in 1 Kor 15:55 beteken hades “graf”.

Die Nuwe-Testamentiese gehenna* kom dikwels voor en dui deurgaans op die plek van die verlorenes (Matt 23:33). Dis ontleen aan die Hinnom*-vallei buite Jerusalem* se mure waar al die vullis, en selfs lyke, weg­ge­gooi is en waar kinders geoffer* is aan die afgod Molog in Agas* en ManasseH se tyd (2 Kron 28:3; 33:6). Hinnom word sino­niem met God se toekomstige oordeel* en druk die toestand van verlorenes ná die dood uit.

Dwarsdeur Jesus* se lering verwys Hy met “hel” na ’n plek van straf* en lyding* wat vir die duiwel* en sy engele* voorberei is asook vir diegene wat Jesus en die pro­fete* verwerp, vir huigelaars, kwaadpraters, ontroues, onversoenbares en ongehoorsames. Dit word binne hierdie wêreldbeeld beskryf as ewig, met onsterflike wurms en ’n onuitblusbare vuur, ’n gehuil en gekners van tande. Volgens 2 Kor 5:1 gaan gestorwe Christengelowiges sedert Jesus* se hemel­vaart* hemel* toe en nie meer na hades nie.

Sidebar