HELLENISME

HELLENISME is ’n kultuurfase wat teen 323vC ontstaan het en geduur het tot in die jaar van Kleopatra* se selfdood (30 vC). Die woord “Hellenisme” is afkomstig van die woord Hellas wat ’n ander naam vir Ou Grieke­land was. Hellenisme was om soos ’n Griek te leef.

Aleksander*1 die Grote, wat as die grondlegger van Hellenisme gereken word, het die hele destydse wêreld aan homself on­der­werp. Sy opvatting van wêreldoorheer­sing het meer as militêre of staatkundige onderwerping behels. Dit het ook kultuur* en geleerdheid ingesluit. Op hierdie manier het die Oosterse en Griekse* kultuurgoedere mekaar beïnvloed en mettertyd vermeng geraak. Dit het bekend gestaan as Helle­nisme.

Op grond van hierdie vermenging is dit moeilik om jou ’n eenvormige prentjie van Hellenisme voor te stel. In Egipte* het dit anders gelyk as in Klein-Asië, in Palestina* anders as in Mesopotamië*. Ten spyte van hierdie bonte verskeidenheid, is daar tog ’n eenheidsmotief. In die meeste van die gebiede was iets van die volgende drie fases aanwesig.

Die eerste fase is gekenmerk deur ’n vinnige verspreiding van die Griekse kultuur en beskawing. Dit het met uiterlike dinge ge­paard gegaan soos die vestiging van Griekse koloniste en stede met Griekse na­me en ’n Griekse karakter.

Die tweede fase het oor eeue plaasge­vind en het ’n kragtige herwaardering van eie kultuurgoedere meegebring. Soms het dit selfs op openlike konfrontasie uitgeloop soos in Palestina onder leiding van die Makkabeërs*.

Die derde fase was een van sinkretisme* of versmelting van die verskillende kul­tuurelemente. Dit het egter nie oral ewe konsekwent plaasgevind nie. In Palestina het die Joodse* godsdiens as sterk bolwerk teen die versmelting gedien en dit was dus in ’n mindere mate die prooi van hierdie vreem­de gees.

Die Christendom* het wel uiterlik van Hellenisme gebruik gemaak, maar het nie daaruit ontstaan nie. Die Christendom het die geloof van die kruis* verkondig wat op stuk van sake vir die Grieke loutere onsin was.

Vir verdere lees: S Duvenhage 1976. Die dékor van die Nuwe Testament: ’n Kultuur­hi­storiese agtergrondstudie. Pretoria/Pot­chef­stroom/Kaapstad: Interkerklike Uitge­werstrust.

Sidebar