HEMEL

HEMEL. Die Hebreeuse* sjamajim (altyd in die meervoud) en die Griekse* oeranos word met “hemel” vertaal. “Hemel en aarde*” omvat God se skepping, en “hemel” is ’n sigbare, fisiese deel daarvan. God het die hemel geskep en beheer dit. Die hemel mag nie aanbid* word nie. Dis onderworpe aan God se oordeel* en verwoesting: son en maan sal verdonker, hemel en aarde tot niet gaan. Nogtans is daar hoop vir die herskepping van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.

“Hemel” word egter ook gebruik as aanduiding van die woonplek van God en as simbool van gelowiges* se hoop op ’n lewe by God. Antieke mense het aan verskillende hemels geglo wat bokant hulle geleë sou wees. Volgens die Persiese* en later Joodse* literatuur was daar sewe hemele en daar is baie gespekuleer oor die samestelling daarvan. Die onderste drie was onaantreklik met die elemente van oordeel: winde, reën, sneeu, hael en vuur. Die boonste vier was woonplekke van die laer geestelike wesens en engele*. God het volgens dié siening in die sewende hemel geregeer met sewe aarts­engele wat voor sy troon diens doen.

In die Bybel* is egter net sprake van drie hemele:

  1. ‑Die blou “firmament” wat die koepel­vormige bedekking of tentdoek oor die aarde is, en wat die “water bo die aarde” skei van die “water onder die aarde”. Dit rus volgens die destydse wêreldsiening op pilare en het ’n fondament en vensters. Wanneer die vensters oopgemaak word, val die water bokant die koepel op die aarde as reën, of stort God sy seën daardeur uit. Die hemelse deure kon oopgemaak of gesluit word. Voëls vlieg rond en wolke beweeg in hierdie ruimte.
  2. ‑Die “sterrehemel” met die son, maan en sterre waardeur die son elke dag reis.
  3. ‑Die “derde hemel”, “hemel van die he­mele” of “paradys” wat die eintlike woonplek van God is en waarvandaan Hy neer­kyk op die mense wat soos sprin­kane lyk. Hier woon ook die Gees* en Christus*, dis die plek waarvandaan Christus neergedaal het, waarheen Hy opgevaar het, waar Hy tans is en waarvandaan Hy weer sal terugkeer. Dit is bokant die “firmament” en dikwels verstaan as ’n tempel. Hebreërs* en Open­baring* verstaan die aardse tempel en kultus as ’n weerspieëling van die hemel­se waar die leërskares en engele* God aanbid. Hier is God in sy troonkamer op sy troon en heers Hy as koning* oor hemel en aarde met die aarde as sy voetbankie. Die Jesajaskrywer* versoek Hom om af te kom en sy mag te openbaar – soos Hy inderdaad ook doen as Hy die aarde besoek en by sy volk woon – op Sinai*, in die tempel*, Sion* en die kerk*. Op hierdie manier word dié plekke verlengstukke op aarde van die hemel. Paulus* beskryf ’n ondervinding toe hy “opgeruk was tot in die derde hemel”. Volgens Matteus* en 2 Korintiërs* bly ook die “siele* van die regverdiges” saam met God in sy woonplek … die ewige erflating vir gelowiges*.

In ons hedendaagse verstaan van die “hemel”, sal ons enersyds rekening moet hou met die wêreldbeskouing van die tyd toe die Bybel geskryf is en wat baie anders is as hoe ons deesdae na dinge kyk en daarvan weet, maar andersyds ook begryp dat die hemel as “woonplek van God”volgens die Bybel ’n wérklikheid is, al weet ons nie hoe en waar dit is nie. Dit kan baie nader aan ons wees as wat ons dalk vermoed – in ’n ander dimensie.

 

Sidebar