HENDRICKSE, HELENARD JOE (ALAN)

HENDRICKSE, HELENARD JOE (ALAN) (1928–2005) is op Uitenhage ge­bore en het aan die Universiteit van Fort Hare studeer waar hy sy teologiese kwalifikasie verwerf het. Hy word, soos sy pa, predikant* in die Kongregasionalistiese Kerk*. In 1969 verlaat hy die kansel vir die politiek toe hy verkies word as lid van die Arbeidersparty vir Bethelsdorp in die Verteenwoordigende Kleurlingraad. In 1970 word hy tot voorsitter van die party verkies, en in 1979 word hy leier van die Arbeiders­party. Hendrickse was ’n heftige teenstander van die apartheidsbeleid*, maar hy het die weg van politieke konfrontasie eer­der as gewelddadige konfrontasie gekies en het daarom ingestem om deel van die Drie­kamer-parlement te word.

In 1987 het hy, toe minister in die Kabinet van pres PW Botha*, wêreldvoorblaaie gehaal met sy historiese swemuitstappie na die “slegs vir blankes”-Koningstrand in Port Elizabeth om protes aan te teken teen die wet op aparte geriewe vir die verskillende bevolkingsgroepe. Die Financial Mail het hom hiervoor as Man van die Jaar aangewys. In 1989 het hy uit protes teen die regeringsbeleid geweier om die staatspresident se banket in Kaapstad by te woon. Hy het ook ’n sterk oproep gemaak dat Mandela* uit die tronk vrygelaat moet word. Hendrickse het die Sondag voor sy dood nog gepreek. Die Orde van Boabab vir uitnemende diens is in 2004 deur pres Mbeki* aan Hendrickse toegeken.

 

Sidebar