HENDRIK DIE SEEVAARDER, PRINS

HENDRIK DIE SEEVAARDER, PRINS (1394–1460) van Portugal het die weg ge­baan vir die ontdekkingsreise na die Ooste. Volgens sy biograaf, Gnomes Eanes da Zurra, was Hendrik se primêre doelstellings om onbekende gebiede te ontdek en om handel te dryf met Christene* in die be­trokke lande. Hy wou ook die om­vang van die Islamitiese* dominiums bepaal, ’n Chris­ten-koning vind wat hom kon help om die ongelowiges te beveg, en laastens om die Christelike geloof* te versprei.

Prins Hendrik was grootmeester van die Orde van Christus*, wie se rooi kruis op die skeepseile aangebring is. Geld vir sy ontdekkingsreise en navigasie-navorsing is ook hoofsaaklik deur dié orde voorsien. Pous*­like dekrete is op prins Hendrik se versoek uitgevaardig waarin die soewereiniteit van die Portugese koning (polities en op handelsgebied) en dié van die orde op geestelike terrein bevestig is oor elke gebied wat deur die Portugese ontdek is. Die seevaarders het gevolgik padraõe’s opgerig wat toegewys is aan ’n Christen-heilige as simbool van die Portugese soewereiniteit en die Christendom*. Van dié kruise is ook aan die Suid-Afrikaanse kus opgerig waarvan die een by Kwaaihoek deur prof E Axelson ontdek en opgegrawe is en ná restourasie uitgestal word by die Universiteit van die Witwatersrand.

Vir verdere lees: J Ure 1977. Prince Henry the Navigator. Londen: Constable.

 

Sidebar