HENRY VIII

HENRY VIII (1491–1547), Henry VII se tweede seun, het in 1521 die Assertio Sep­tem Sacramentorum – waarin hy Luther* se dwaallerings wou blootlê – gepubliseer. Dit het daartoe gelei dat die pous* hom met ’n eretitel bekroon het as die beskermer van die geloof (Defender of the Faith). Die Hervorming* onder leiding van Luther het Henry diep agterdogtig gemaak vir leerstellige veranderings. Maar in ’n poging om ’n manlike opvolger te verwek, wou hy ’n egskeiding verkry van koningin Katerina (Catherine) van Aragon (sy ouer broer se weduwee). Dié “Groot Saak” van die koning het grootliks bygedra tot sy breuk met Rome in 1533-34. Terselfdertyd is wetgewing deurgevoer wat die Engelse monarg tot opperheerser in sy koninkryk verklaar het (die Act of Supre­macy), waardeur ’n nuwe nasionale Christelike kerk tot stand gekom het: die Church of England* (Kyk by: Anglikaans). Die koning was bereid om leerstellings van die Hervorming in te span om sy magshonger te voed. Die Engelse koning/koningin sou hierna tot vandag toe as seremoniële hoof van die Church of England die titel “Defender of the Faith”behou. In ’n statuut van 1539 (die Six Articles) het Henry die Kato­lieke* leer herbevestig. Tussen 1536 en 1539 het hy toegesien dat die Katolieke klooster*huise ontbind word. Daardeur is baie kerklike misbruike beëindig. Koning Henry het bepaal dat daar ’n Bybel* in elke parogiekerk (gemeente*) moet wees. Al Henry VIII se kinders het hom op­ge­volg, en wel in die volgorde Edward, Mary en Elizabeth.

Sidebar