HERVORMER, DIE

HERVORMER, DIE, amptelike kerk­koerant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA)*. Die Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk het in 1869 besluit om ’n kerkblad uit te gee. Vanweë die troebel tye op kerklike en volksterrein, het die eerste uitgawe van die blad eers op 15 September 1899 verskyn. Die publikasie daarvan is gou deur die Anglo-Boereoorlog* onderbreek, en is eers weer in 1909 hervat. Tydens die Depressie van 1934 is publikasie ’n jaar lank onderbreek. In 2007 het die NHKA die 100ste jaargang van Die Hervormer gevier.

Van vroeg af was daar behoefte nie net aan ’n kerklike koerant nie, maar ook aan ’n gesinstydskrif. Daarom het die formaat van Die Hervormer die afgelope honderd jaar telkens verander en het die blad dán as tydskrif en dán as koerant verskyn. In 1990 het Konteks as gesinstydskrif sy opwagting gemaak, en verskyn Die Hervormer as kerklike koerant.

Die bedoeling met Die Hervormer is om kerknuus aan kerkmense oor te dra. Verder wil dit ruimte bied vir teologiese en kerklike gesprek. Al die verskillende standpunte en nuanserings van sienings in die kerk word deur die blad hoorbaar gemaak, maar sonder dat die koerant uitgelewer wil wees aan enige drukgroep. Die koerant het verder die funksie om krities maar solidêr kommentaar te lewer op sake van die dag in die kerklike, teologiese en sekulêre wêreld. Laastens moet Die Hervormer die amptelike standpunte van die Hervormde Kerk duidelik kommunikeer.

Sidebar