HOËPRIESTER

HOËPRIESTER.

  1. Sedert die tyd van Julius Wellhausen* stem Bybelwetenskaplikes redelik algemeen saam dat die amp van hoëpriester ’n relatief laat ontwikkeling in die priesterskap was (Kyk by: Leviete en priesters). Die vermoede is dat hierdie leiersfigure eers ná die Babiloniese ballingskap*2 in die gods­diens van Ou Israel* prominent geword het. Volgens Wellhausen se teorie word hierdie amp deur latere geskrifte (bv die priesterlike bron; Kyk by: Pentateugbron­ne) teruggeprojekteer in die voorstellings oor die verlede. Die term “hoëpriester” kom slegs in enkele geskrifte van die koningstyd voor, hoewel sommige meen dat die term “die priester” ook met ’n leiersfiguur in die priesterskap kan saamhang. In die na-bal­ling­skapse literatuur (bv Haggai*, Esra* en Nehemia*) is daar geen twyfel dat ’n persoon met die naam “Jesua” die hoëpriester was nie.

In die Nuwe-Testamentiese* tyd was hier­die amp goed bekend. Die Evangelies* en ander Nuwe-Testamentiese geskrifte dui aan dat verskillende hoëpriesters ’n prominente rol in die tyd van Jesus* gespeel het. Die Griekse* term achiereus word gebruik om na die hoëpriester te verwys. Konti­nuï­teit met die Ou-Testamentiese* priesterskap word sonder meer veronderstel, aangesien die amp nie verder verduidelik word nie. Die hoëpriester was normaalweg die president van die Sanhedrin*, ’n priesterlike liggaam wat in Jesus se tyd invloedryk was. Hoëpriesters soos Kajafas* en Annas* het ’n groot rol in die vervolging van Jesus ge­speel.

Die boek Hebreërs* vul weer die begrip hoëpriester baie positief in (soos bv gedeeltes in Heb 5–10). Daar word aangedui dat Jesus Christus* die volmaakte hoëpriester geword het. Hy is deur God aangestel, en sy priesterskap oortref Aäron s’n. Dit strek terug tot die “orde van Melgisedek”.

Sidebar