HERDER

HERDER. In die lig van die landelike leef­wyse in Bybelse tye is dit nie verbasend dat die herder-simbool dikwels in die Bybel* voorkom nie. Herderskap was waarskynlik die oudste “beroep” in Palestina*. Herder­skap het positiewe assosiasies soos blyk uit die gebeure rondom Jesus* se geboorte, maar word soms in Joodse* geskrifte ook sinoniem met diewe gebruik. Die oordrag­teli­ke betekenis oorheers en vind sy be­kendste uitdrukking in die herderpsalm, Ps 23. God word as die herder van Israel* uitgebeeld om daarmee sy sorg, beskerming en leiding vir hulle uit te druk. In afgeleide sin word die leierskap (konings*, priesters*, profete* in die Ou Testament*; Fariseërs*, skrif­geleerdes*, ouderlinge* in die Nuwe Tes­ta­ment*) ook as herders van die volk aangedui. Diegene wat hulle herderlike verantwoordelikheid getrou uitvoer, word daarvoor geprys, maar diegene wat die kud­de verstrooi en verwaarloos, word ver­oordeel. In tye wanneer die volk herderloos­­heid ervaar, groei die verwagting na die ware Herder. In die Nuwe Testament word Jesus die Goeie Herder genoem (Johannes*-Evangelie). Hy is ’n empatiese herder wat sy lewe aflê vir sy kudde, maar hulle juis ook op grond daarvan rondom Hom versamel en tot ’n eenheid maak. Sy dissipels ontvang die opdrag om sy kudde, sy lammers en sy skape – dit wil sê, sy gemeente* – te versorg.

Sidebar