HERE (KURIOS).

HERE (KURIOS). Die unieke Ou-Testa­men­tiese* Naam vir God, jahwe*, word in Grieks* met kurios weergegee (Hand 2:34), en in Afrikaans word dit Here. ’n Heer het gesag* oor iets of iemand uitgeoefen (Mark 2:28), het dinge of mense* besit (Hand 16:19; Gal 4:1; Rom 14:4; Joh 13:16), en word gedien (Matt 6:24). Soms beteken kurios slegs “meneer” (Matt 13:27), en ’n seun kon sy pa as kurios (heer) aanspreek (Matt 21:30 – 1933/1953-Afrikaanse Vertaling).

“Jesus is Here” is een van die vroegste geloofsbelydenisse* van die kerk* (Hand 2:36; Fil 2:11). God en Christus* word met mekaar geïdentifiseer (2 Kor 3:16; Eks 34:34). Jesus* word dikwels “die Here Jesus” ge­noem (Hand 4:33; 16:31). Dit druk ’n verhouding uit (1 Tess 3:13). Kurios word ook van die Gees* gebruik (2 Kor 3:17). Jesus word as Here bely, want: 1. die dissipels* het ervaar dat Hy opgestaan het (Joh 20:26); 2. die Gees* skep hierdie belydenis* (1 Kor 12:3); 3. as verrese Here en die Een wat aan die regterhand van God sit, heers Hy oor alle magte* (Ef 1:15-23). Keiser* Domitianus (81–96 nC) het daarvan gehou om as dominus et deus noster (“ons heer en god”) aangespreek te word. Openbaring* bely: Jesus is die enigste Heer (Op 13:1-6).

Sidebar