HERERO’S EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

HERERO’S EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Daar is drie Herero-stamme wat hulle voor 1550 in drie Namibiese gebiede gevestig het: die sentrale Herero, die Mbanderu in die ooste en die Himba (of Tjimba) in die noordweste. Hulle praat Otjiherero en bedryf veeboerdery. Daar bestaan ’n sterk gehegtheid aan volk en stamverband. Die familiestruktuur is patri­li­niêr én matriliniêr. Oudstes van die stam word hoog geag en word verbind met die tradisionele verering van die voorouers by die heilige vuur.

Die eerste kontak met die Christelike* geloof* was in 1844, toe sendeling Carl Hugo Hahn van die Rynse Sendinggenootskap* ’n sendingstasie opgerig het te Neu Barmen, naby Okahandja. Weens die nomadiese aard van die Herero, was dit moeilik om die stamme by ’n sendingstasie as stamsentrum te vestig. In 1849 het Rath ’n sen­ding­stasie te Otjimbingwe (Swakoprivier­val­lei) be­gin, en Kolbe te Okahandja in 1850. Erns­tige stamgevegte tussen Herero’s en Namas (Jonker Afrikaner-koalisie) in 1853 het die werk onderbreek, en die Rynse sending moes onttrek. ’n Jaar later is die werk hervat met Otjimbingwe as sentrum. Hierdie tweede poging is ontwrig deur koper-prospekteerders en handelaars met grootskaalse drank-verkope en korrupsie. Die werk moes in 1858 weer sluit.

Die derde poging (1863) het blywende resultate opgelewer. Die Otjimbingwe-sen­dingkolonie het ’n belangrike rol gespeel in die Herero-bevryding van Afrikaner-Nama-oorheersing. Die eerste inrigting vir leierskapopleiding is geopen (Augustineum). Otjimbingwe het die hoofsentrum van die toekomstige Rynse Sendingkerk geword, waar die Herero met ’n “omvattende benadering” bedien is. Die jare 1870–1880 is gekenmerk deur uitsonderlike groei: 7 nuwe sendingstasies het ontstaan, terwyl Herero-ouderlinge en -evangeliste die werk begin doen het. In 1938 is die Paulinum-Teologiese Seminarium op Otjimbingwe geopen vir die opleiding van evangeliste, en vir pastore in 1948. Die eerste sinode* het in 1957 plaasgevind, waartydens die naam verander is na “Evangeliese Lutherse Kerk in Suidwes-Afrika”.

Vir verdere lees: GL Buys en SVV Nambala 2003. History of the Church in Nami­biaAn Introduction. Windhoek: Gams­berg Macmillan. JS Malan 1995. Peoples of Namibia. Wingate Park: Rhino Publishers.

Sidebar