HERLEWING

HERLEWING kom op twee vlakke voor:

  1. ‑In die persoonlike lewe van ’n Christen* waar geestelike louheid ingetree het. ’n Nuwe toewyding bring ’n nuwe ervaring van God se genade* saam met ’n nuwe vrede en entoesiasme vir God se plan en wil. ’n Gees van selftevredenheid en vorm­godsdiens maak plek vir ’n nuwe roe­pingsbewustheid, vergewensgesindheid, ’n opgeskerpte gewete met vrede, ’n nuwe lewensblyheid en vryheid in Christus*, ’n nuwe gemotiveerdheid om gehoorsaam te wees aan die groot op­drag van Christus, ’n nuwe vrymoedig­heid en spontaneïteit wat aansteeklik is, ’n nuwe waardering vir die Bybel* as Woord van God*, en ’n nuwe belewenis van ’n persoonlike verhouding met God Drie-enig.
  2. ‑Die tweede vlak waarop herlewing plaasvind, is op gemeente*vlak. Dink aan die NG Gemeente Paarl met die ontstaan van Pinksterbidure* (1859), die Boere-krygsgevangenes op St Helena (1899–1902), of in ’n ruimer sin op streeksvlak (Timor in Indonesië 1965–1969 waar na raming 250 000 mense tot bekering* gekom het, of die Hebrediese Eilande in Skotland), of selfs in ’n land (die herlewing in Engeland ongeveer 1860).

‑   Daar moet onderskei word tussen herlewing (revival) en revivalisme. Eersge­noemde is ’n eg Goddelike werk deur die Heilige Gees*, maar laasgenoemde as -isme is eerder  ’n (gedwonge) emosionele betowering waarvan die egtheid bevraagteken moet word.

‑ Vir verdere lees: AC Barnard 1961. Eeufees van die Pinksterbidure 1861– 1961: ’n Eeu van Pinksterbidure soos gebruiklik in die NG Kerk. Kaapstad. NGKU. Henry C Fish 1874. Handbook of Revivals. Boston: Earle. Mel Tari 1971. Like a Mighty Wind. Green Forest: New Leaf Press. RA Torrey 1901. How to Promote and Conduct a Successful Revival Chicago: Revell.

 

Sidebar