HERMAS

HERMAS (circa 90–150) is bekend as die skrywer van Die Herder. Hy staan ook be­kend as ’n apostoliese vader*.

Hermas is ’n slaaf wat vrygestel is. Hy trou en het kinders. Hy word oneerlik ryk en verloor weer alles, ook sy kinders wat hom verwerp. Vervolgens doen hy boete, en skryf Die Herder nadat hy ’n reeks visioene gehad het. Die Herder is iewers tussen 90 en 150 nC geskryf. Of een persoon met die naam Hermas dit geskryf het (soos “Hermas” beweer), is twyfelagtig. Dis waarskynlik deur drie persone in drie fases geskryf.

Die Herder van Hermas bestaan uit drie dele: vyf visioene, twaalf mandate, en tien gelykenisse. Die geskrif ontleen sy naam aan die vyfde visioen, waar die engel van boetedoening in die kleed van ’n herder verskyn. Die boek fokus op boetedoening (Kyk by: Bieg), en laat die moontlikheid oop dat ’n gelowige*, ook ná sy doop*, nog kan sondig en dan boete mag doen. Binne hierdie klem op boetedoening, is Die Herder mora­lis­ties (Kyk by: Moralisme). Hermas se vroomheid is eenvoudig en eng. Die Herder is ’n belangrike historiese bron omdat dit ’n kykie gee in “vulgêre katolisisme”, dit is, die eerste blyke van hoe die katolieke geloof van ’n nie-geestelike daar sou uitsien.

Die Herder van Hermas is as feitlik kanoniek* beskou deur Irenaeus*, Orige­nes* en Tertullianus*.                              C Landman

Sidebar