HERODES

HERODES. Verskeie persone met hierdie naam is in die Bybel* bekend:

  1. ‑Herodes die Grote (circa 37–4 vC) word veral in die geboorteverhale van Jesus* genoem. Hy het die sterrekykers* uitgevra oor Jesus (Matt 2:1; sien ook Luk 1:5) en die kindertjies laat doodmaak (Matt 2:16). In die geskiedenis staan hy veral uit as die een wat die indrukwekkende tempel*3 in Jerusalem* laat bou het.

‑   Herodes die Grote was ’n formidabele politieke figuur wat sy posisie te danke gehad het aan sy vermoë om, soos sy pa, die Idumese prokurator Anti­pater, politieke mag van die Ro­meine te beding. (Kyk by: Romeinse Ryk.) Ná die dood van sy pa en ’n per­iode van interne woelings en politieke mags­wisseling, is hy in 40 vC deur die Romeinse senaat oor Palestina* en die omliggende gebiede van Galilea*, Perea en Samaria* as koning aangestel. Hy kon egter eers ná ’n lang militêre veldtog van 37 vC af werklik die regeermag uitoefen, maar het toe vir ’n lang tyd – tot kort ná Jesus se geboorte – geregeer (tot 4 vC).

‑   Sy politieke behendigheid blyk uit sy goeie verhoudings met die Romeine, maar ook uit sy pogings om die guns van die Jode* te wen. Hy het bv heel sensitief die tempel deur opgeleide priesters* laat bou sodat die offer*kultus ongesteurd kon voortgaan. Van sy agt vrouens was twee Jodinne, waarvan die bekendste Mariamne was. Sy was uit die Hasmonese koningshuis wat hy vervang het met sy eie regering. Die huwelike met die Jodinne moes sy posisie by die Jode verbeter.

‑   Hoewel hy Joods was en die Joodse godsdiens bevorder het, was hy om verskeie redes ongewild. Sy pa was uit die stam van Edom* wat onder dwang tot die Joodse geloof bekeer is en dus deur ortodokse Jode as buitestaanders beskou is. Boonop moes hy as meeloper van die Romeine, ook Ro­meinse beleid uitvoer. Veral die Fariseërs* met hulle fokus op reinheid* was krities teenoor hom, onder andere as iemand wat vreemde Helle­nistiese* gebruike (soos gimnasia) be­vorder het. Hy het boonop Grieks* as taal aan sy hofhouding gebruik en Griekse onderwysers het sy kinders opgelei, wat vir konserwatiewes onaanvaarbaar was. Joodse geskrifte bevat allerlei wrewelrige verwysings na hom (sien die Hemelvaart van Moses 6:2-7).

‑   Sy groot prestasie was op ekonomiese ge­bied: hy het stede opgerig (Sebaste in Sama­ria en Sesarea* as hawepoort) en massiewe bouprojekte onderneem, waar­onder seker die bekendste die tempel in Jerusalem is – waarvan die tempelmuur (klaagmuur) van­dag nog staan. Maar hy het ook tempels vir ander godsdienste gebou en, tot ontsteltenis van die konserwatiewe puriste, ook ’n teater en amfiteater in Jerusalem. Herodes se oorlewingsdrang het hom gedryf om po­litieke opstande met brute geweld te on­der­druk. Hy het selfs een van sy vroue (Ma­ri­amne) vergiftig en drie van sy eie seuns laat doodmaak toe hulle daarvan ver­dink is dat hulle Joodse onrus teen die Ro­meine aangewakker het. Hoewel daar geen buite-Bybelse bewyse is vir die vertelling van die kindermoord in Matt 2:16 nie, pas dit goed in by sy karakter.

‑   Die Romeine was goed op die hoogte met sy doen en late en het hom verag, soos blyk uit ’n opmerking van keiser* Augustus* dat hy eerder Herodes se vark as sy seun sou wou wees.

  1. ‑Herodes Agrippa I (10 vC–44 nC) was ’n kleinseun van Herodes die Grote* by een van sy Joodse vroue, Mariamne, en die seun van Aristobolus en Bernice* (10 vC–44 nC). Omdat hy saam met voor­aanstaande Romeinse kinders in Rome* opgevoed is, het hy die Romeine goed geken. Soos sy oupa, was hy ’n bedrewe onderhandelaar met die Romeine. Hy het bv voorspel dat die later keiser Caligula die politieke mag in Ro­me sou oorneem toe Caligula nog onbe­kend was. Toe dit werklik gebeur, is hy daarvoor beloon met die koningskap oor Galilea* en omgewing (37 nC). Van 41 nC het hy ook oor Judea*, Samaria* en Idumea geregeer nadat hy sy ou vriend, keiser Claudius*, gehelp het om die troon te bestyg ná die moord op keiser Kaligula. Herodes Agrippa I het dus oor dieselfde koninkryk as Herodes die Grote regeer.

‑   Hierdie Herodes was gewild onder die tradisionele Jode* weens sy noukeurige on­der­houding van die offerkultus en die streng toepassing van die regspleging volgens die wet van Moses*. Hy het Jakobus* laat dood maak, waarskynlik om die guns van die Jode te wen (Hand 12:1, 20-23). Tog het hy buite Joodse gebiede sonder skroom Hellenistiese* gebruike nagekom en bevor­der. Hy het bv ’n teater* gebou, gladiatorspele gereël, standbeelde vir sy dogters opgerig en sy beeltenis op munte (Kyk by: geld) laat slaan.

  1. ‑Herodes Agrippa II (27–100 nC) was die laaste heerser uit die Herodiaanse dinastie. Soos sy voorgeslagte is hy ook in Rome opgevoed. By die onverwagte dood in 44 nC van sy pa, koning Herodes Agrippa I*, het keiser Claudius, wat hom goed geken het, gedink hy is te jonk om in die plek van sy pa te regeer – hy was toe maar 17 jaar oud en het in die keiserlike paleis in Rome gebly waar hy opgevoed is. Eers nadat sy oom Herodes van Galsis in 48 nC gesterf het, het hy van daardie klein ryk koning geword. Vier jaar later het hy ’n heelwat groter gebied van Herodes*6 Filippus gekry.

‑   Herodes Agrippa II is veral berug weens sy bloedskandelike verhouding met Ber­nice*, sy halfsuster. Sy was getroud met ko­ning Herodes van Galsis, wat ’n oom van hom was. Bernice het ná haar man se dood as vrou by haar broer ingetrek. Volgens Hand 25:13; 26:1, 19, 27 het sy en Agrippa Paulus* se verhoor op uitnodi­ging van goe­wer­­neur Festus* bygewoon. Dit was Hero­des Agrippa II wat opgemerk het dat Paulus vrygelaat kon gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.

‑   Agrippa wou, soos sy pa, die Jode se belange bevorder deur onder andere die bouwerk aan die tempel in Jerusalem te voltooi. Maar uiteindelik het hy in die Joodse opstand (66-70 nC), wat hy eers tevergeefs probeer voorkom het, die Ro­mein­se kant gekies.

  1. ‑Herodes Antipas (20 vC–39 nC) was die seun van Herodes die Grote en het sy pa opgevolg as tetrarg (Kyk by: Viervors) van Galilea* en Perea (4 vC). Johannes die Doper* het sy huwelik met Herodias*, ’n vrou van sy halfbroer, veroordeel (Mark 6:17, 28; Luk 3:19-20). Net soos die res van sy fa­mi­lie bevorder hy die Hellenistiese* kul­tuur, onder andere deur die bou van groot stede. Die bekendste is Tiberias*, waar ’n begraafplaas tydens die bouery opgegrawe is. Hoewel die Jode beswaar gemaak het en nie daar wou woon nie, het hy nie die bouwerk gestaak nie. Hy is die Herodes wat saam met Pilatus* vir Jesus verhoor het (Luk 23:7). Hy is in 39 nC deur die Romeinse keiser afgesit.
  2. ‑Herodes Argelaos (circa 23 vC–18 nC), seun van Herodes die Grote, was ná sy pa se dood (4 vC) etnarg van Judea, Samaria en Idumea, die suidelike deel van sy pa se ryk. Josef* wou nie met Jesus na Judea terugkeer toe hy hoor dat Argelaos daar heerser geword het nie (Matt 2:22). Hy was ’n baie ongewilde heerser. Binne twee jaar nadat hy heerser word, vra ’n afvaardiging van Sama­ritane* en Jode dat die Romeinse keiser hom verwyder van die troon. Hy is in 6 nC deur keiser Augustus na Gallië verban.
  3. ‑Herodes Filippus (4 vC–34 nC) was die seun van Herodes die Grote wat deur sy pa aangewys is om ná sy dood as tetrarg (Kyk by: Viervors) te heers oor die noordoostelike dele van sy ryk. Die Joodse inwo­ners in hierdie gebied met sy baie stede was redelik simpatiekgesind teenoor hom weens sy regverdige, pligsgetroue regering sodat dit ’n vreedsame tyd was. Betsaida (Luk 9:10) is deur hom herbou en ter ere van die dogter van keiser Augustus hernoem as Julias. Hy het Sesarea-Filippi* (Matt 16:13) as hoofstad herbou en na homself vernoem. Hy was getroud met Salome*, sy broerskind (Mark 6:17).
Sidebar