HERRNHUTTERS (MORAWIESE BROE­­DER­GEMEENTE)

HERRNHUTTERS (MORAWIESE BROE­­DER­GEMEENTE). Herrnhut is die naam van ’n dorpie ongeveer 70 km van Dresden in die gebied van Sakse (Duits­land). In 1722, het Ludwig, Graaf von Zinzendorf*, ’n aantal Protestantse* vlugte­linge wat deur die Katolieke Kerk* in Bo­heme vervolg is, uitgenooi om hulle op sy landgoed by Herrnhut te vestig. Saam met die geestelike leier van die vlugtelinge, Christian David, het Von Zinzendorf die Morawiese Broedergemeente (soms ook Herrnhutters genoem) gestig, wat ’n groot bydrae gelewer het om in ’n tyd toe daar bitter min sending*belangstelling onder Protestante in Europa was, sendelinge* na talle wêrelddele te stuur – onder andere na Suid-Afrika. In 1738 het John Wesley* Herrnhut besoek en vir ’n paar weke lank aktief aan die eredienste en ander geestelike byeenkomste deelgeneem. Die Mora­wiese Broedergemeente is nou geskakel met die Lutherse Kerk*. Terwyl daar nog talle geboue wat deur Morawiese broeders en susters gebruik word, by Herrnhut te sien is, is die amptelike hoofkwartier van die gemeenskap na Berthelsdorf, twee kilometer daarvandaan, verskuif.

 

Sidebar