HERTROU

HERTROU. Terwyl hertrou ná die dood van ’n lewensmaat en veral na egskeiding* vandag baie algemeen is, is dit moeilik om duidelike Bybelse riglyne daaroor te vind. Aan die een kant is daar ’n duidelike prinsipiële lyn wat dui op die permanensie van die huwelik*. In teksgedeeltes soos Matt 5:32; 19:9; Luk 16:18 en Rom 7:3 word die huwelik geteken as ’n onverbreekbare le­wensbinding wat hertrou, terwyl die ander party nog leef, op egbreuk* laat neerkom. Die Bybel* gaan dus van die standpunt uit: Moenie skei nie en moenie weer trou nie. Die pad van versoening moet end-uit gevolg word.

Tog het Jesus* self ’n menslike en nie ’n wettiese benadering nie gevolg ten opsigte van egskeiding en ander etiese kwessies. ’n Wettiese benadering, soos: Jy mag nooit weer trou nie!, strook nie met die evangeliese moontlikheid van vernuwing nie. In hierdie situasie kom ’n ander ewe belang­rike Bybelse riglyn na vore, naamlik dié van regverdigmaking en vergifnis (Kyk by: Vergewing). In ’n situasie van egskeiding en hertrou, is daar dus ruimte vir vergifnis en ’n nuwe begin. Wat die Bybel oor die permanensie van die huwelik sê, skakel nie die pastorale moontlikheid van “gaan heen en sondig nie meer nie” uit nie. Die Bybelse uitsprake oor die onontbindbaarheid van die huwelik en die evangelie* van genade* staan dus nie los van of teenoor mekaar nie, maar word verenig in die persoon en werk van Jesus* Christus* wat van beide die “Outeur” is.

Die pastorale hantering (Kyk by: Pastorale beraad) van ’n hertroue stel heelwat eise aan die pastor en huweliksbevestiger. Dit bring gewoonlik ook ’n hersaamgestelde gesin mee. Die hoeveelheid nuwe verhoudings wat meteens binne die klein kring van die intieme gesin han­teer moet word, is soms oorweldigend. In die nuwe huwelik en gesin vloei twee verhale van sukses en mislukking saam en vra vir intense pastorale begeleiding.

Vir verdere lees: JA Heyns 1986. Teolo­giese etiek: Deel 2/1. Pretoria: NGKB. DJ Louw 1986. Geen mens mag skei nie(?): Rig­lyne vir die pastorale hantering van egskeiding. Kaapstad: NGKU. JC Müller 2002. Ge­sinne van binne. Bloemfontein: Barnabas.

 

Sidebar