HERTZOG, JAMES BARRY MUNNIK

HERTZOG, JAMES BARRY MUNNIK (1866–1942) het regte aan die Victoria-kollege (later die Universiteit van Stellenbosch) en aan die Universiteit van Amsterdam bestudeer. Hertzog word op ’n jong ouderdom regter in die Vrystaatse Republiek en hy tree as regsadviseur op by die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902), waar­tydens genl Christiaan de Wet* hom spoedig tot generaal bevorder. Hy neem deel aan die Nasionale Konvensie en is in­ge­sluit in die eerste Unie-kabinet van 1910. Sy sterk standpunte oor gelyke taalbereg­tiging bring Hertzog in botsing met ander Kabinetslede wat bydra tot sy weglating in 1912. Dit lei tot Hertzog se stigting van die Nasionale Party in 1914 waarna hy veral as kampvegter optree vir gelyke taalregte, die beskerming van wit arbeid en die erkenning van die soewereine onafhanklikheid van Suid-Afrika.

Hertzog word in 1924 eerste minister in koalisie met die Arbeidersparty. Hy het wetgewing oor rasseverhoudings deurgevoer wat vir aparte swart adviserende instellings en ’n afsonderlike kieserslys voorsiening gemaak het, asook die vergroting van die sogenaamde naturelle-reservate. Nadat Hertzog in 1939, met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog*, sy mosie van neutraliteit in die Volksraad verloor het, het hy hom as ontnugterde aan die politiek onttrek. Hertzog was ’n Christen*, maar nie ’n aktiewe kerklidmaat nie.

 

Sidebar