HERVORMING

HERVORMING. Onder die Hervorming (meer spesifiek aangedui as Kerkhervor­ming) of Reformasie word gewoonlik verstaan die beweging op kerklike en sosiale terrein wat hoofsaaklik gedurende die 16de eeu plaasgevind het in reaksie teen die leer van die Katolieke Kerk*. Die Katolieke leer het onder andere die volgende sake inge­sluit waarteen die Hervormers in opstand gekom het: die leer van die onfeilbaarheid van die pous*, Maria*1verering, die bieg*stelsel, die leer van die vagevuur*, verdienstelikheid van goeie werke, sewe sakramente*, die transsubstansieleer (dat die brood en wyn werklik in die liggaam en bloed van Chris­tus* verander en Hy telkens by die Katolieke mis* weer geoffer word). (Kyk by: Transsub­stansiasie). Daar was “voorlopers” van die Hervorming soos Wycliff*, Hus*, Savona­rola* en andere wat reeds teen aspekte van die Katolieke leer in opstand gekom het. Uiteindelik het Martin Luther* na vore ge­tree as die eerste groot Kerkhervormer. Die amptelike begindatum van die Hervorming word gestel op 31 Oktober 1517 toe Luther sy 95 Stellings teen die kerkdeur van Wit­ten­berg vasgespyker het om die Katolieke Kerk tot debat uit te nooi. Die Katolieke Kerk het daarop geantwoord deur die ban* oor Luther uit te spreek en hom voëlvry te verklaar. Op 10 Desember 1520 verbrand Luther alle pouslike kanonieke boeke en die bul (dokument van die ban) wat oor hom uitgespreek is. Sy la­tere vertaling van die Bybel* in Duits, en sy ander geskrifte, het aan die Hervorming ’n geweldige stoot gegee.

Die ander groot Hervormer was Johan­nes Calvyn* wat baie groot invloed uitge­oe­fen het deur sy Institusie van die Chris­telike Godsdiens, Bybelkommentare en talle ander geskrifte. Calvyn het hom nie net beywer vir die hervorming (deur die terugkeer na die Bybel* as hoogste gesag en enigste norm) van die kerk nie, maar het verder die beginsels van die Woord beklemtoon vir die burgerlike regering, die ekono­mie, ens. In Genève het Calvyn hom daarvoor beywer om die owerheid in te rig volgens die beginsels van die Bybel. Die be­oe­fening van die wetenskap het ook gewel­dig gebaat by die Hervorming.

Die uitleg van die Skrif deur Luther, Cal­vyn en ander Hervormers soos Bucer*, Zwingli* en Knox* het neerslag gevind in die gereformeerde* belydenisskrifte, waar­onder die Heidelbergse Kategismus*, die Nederlandse Geloofsbelydenis* en die Dordtse Leerreëls*.

Die Hervorming het veral sterk posgevat in lande soos Duitsland, Frankryk, Switser­land, Skotland, Engeland en Nederland en ook uitgebrei na die Skandinawiese lande. Dit het gepaard gegaan met bloedige vervolging, veral in Frankryk. Deur die koms van Jan van Riebeeck* en later die Franse Hugenote*, het die godsdiens en beginsels van die Hervorming ook na Suid-Afrika gekom.

Daar was ook die sogenaamde “linker­vleuel” van die Hervorming, bekend as die Anabaptiste* (wederdopers). Hulle opvattings het radikaal van dié van die Her­vormers verskil deurdat hulle nie teruggekeer het na die Woord nie, maar die werking van die Heilige Gees* los van die Woord beklemtoon het.

Sidebar