HEYNS, JOHAN ADAM

HEYNS, JOHAN ADAM (1928–1994) is op Tweeling in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer aan die Potchefstroomse Gim­na­sium en skryf vir sy voorstudie by die Potchefstroomse Universiteit vir CHO* in. Hy behaal sy BA cum laude. Daarna gaan hy vir sy teologiese studie na die Univer­siteit van Pretoria. In 1951 behaal hy beide BD en MA (wysbegeerte) met lof. Hy vertrek na Amsterdam vir verdere studie in dogmatiek* onder  GC Berkouwer*. In 1953 promoveer hy cum laude met ’n proefskrif oor die grondstruktuur van die moda­listiese Triniteitsbeskouing.

Hy bedien die NG gemeentes Ysterplaat (1954–1960) en Rondebosch (1960–1966). In 1962 behaal hy nog ’n doktorsgraad in wysbegeerte. In 1966 word hy senior lektor in dogmatologiese vakke aan die Kweekskool* op Stellenbosch. Van 1971 tot 1993 is hy onder meer hoof van die departement dogmatiek en etiek* aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria.

Benewens die leiding wat hy geneem het as moderator* van die Algemene Sinode van die NG Kerk* (1986), was hy persoonlik verantwoordelik vir, of medewerker aan, talle aktuele rapporte wat deur sinodes goedge­keur is, onder meer Kerk en Samelewing (1986 en 1990) wat ’n wending ten opsigte van apartheid* in die kerk* gebring het.

Sy vurige liefde vir die kerk*, die konin­k­ryk* en die teologie* het van hom ’n bui­ten­gewoon produktiewe skrywer gemaak. Omdat hy ’n oorspronklike denker was, van­weë sy intellek gepaard met sy belesenheid, kon hy standaard teologiese werke in Afrikaans lewer wat ook aan buitelandse universiteite voorgeskryf is. Drie lywige werke oor Dogmatiek (1981) en die Christe­like Etiek (1985 en 1988), is met die Andrew Murrayprys* bekroon. Hy het ’n eie “teologie van die koninkryk”* ontwikkel.

Voor en tydens die staatkundige oorgangstyd in Suid-Afrika, het Heyns hom te midde van die konflik en spanning vir versoening* tussen mense beywer. Hy was teen onreg gekant en wou sien dat geregtig­heid* seëvier, en het in ’n stadium aanvaar dat dit in Suid-Afrika die beste deur middel van ’n beleid soos afsonderlike ontwikkeling kon geskied. Mettertyd het hy daarvan afgesien. Hy was aan die einde van sy lewe inderdaad ’n brugbouer tussen die groepe in Suid-Afrika wat deur diep en wye klowe van mekaar geskei was. Daarom het Heyns ook baie tyd bestee aan die bevordering van ekumeniese* verhou­dings in ’n tyd toe die NG Kerk baie geïsoleerd was. Terselfdertyd het hy in Afrikaanse kultuur*kringe ’n rol gespeel en was in ’n stadium voorsitter van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en ondervoorsitter van die Afrikanerbroederbond/Afrikanerbond (AB)*.

In 1988 is die Dekorasie vir Voortreflike Diens (Goudklas) deur die staatspresident aan hom toegeken. Sy optrede het soms fel kritiek ontlok. Sommige mense was daarvan oortuig dat hy die NG Kerk* op sleeptou geneem het met sy uiteindelike ondubbelsinnige verwerping van die teologie* en die ideologie* van apartheid*.

Hy is op die aand van 5 November 1994 – in die veelbewoë jaar waartydens die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika plaasgevind het – in hulle woonkamer, in die geselskap van sy eggenote, Reneé, en hulle kleinkin­ders, koelbloedig deur ’n sluipskutter om die lewe gebring in ’n steeds onopgeloste moord.

Sidebar