HIËRARGIE

HIËRARGIE is in die Vroeë Kerk* ge­bruik om die drie ordes* van Christelike gees­telikes aan te dui. Die drievoudige hiër­ar­gie (range) van biskop*, priester* en dia­ken*2 is tot vandag toe in die Katolieke*, Grieks-Ortodokse* en Anglikaanse* kerke bewaar. In 1 en 2 Tim kry ons die volledigste beskrywing in die Skrif* van die pligte, verantwoordelikhede en verwagtings van hierdie geestelikes. Omdat, volgens die be­skouing van bogenoemde kerke, geleer is dat die drie range in die gesag van die apos­tels* deel (met verskillende grade: biskop eers­te, priester tweede en diaken derde), is dit ook van hulle verwag dat hulle in die sending/opdrag van leer, heiligmaking en regering moet deel. Met die gesag van leer is geglo dat die kerk net deur die biskoppe tot die finale onderskeiding van die geloof* kan kom, en dit is die plig van die priesters en diakens om dit vir ander gelowiges te leer. Die heiligmaking (Kyk by: Heiliging) behels die sakra­men­te* van genoemde kerke wat (behalwe die doop* en huwelik*) net deur die geestelikes (biskop, priester en diaken) bedien kan word. Die regering van die kerk word aan die biskoppe toevertrou, maar op die parogie- (gemeentelike) vlak word hier­die gesag deur die priesters en diakens uitgeoefen.

Sidebar