HIERONIMUS, EUSEBIUS SOFRONIUS

HIERONIMUS, EUSEBIUS SOFRONIUS (circa 347–419/420) is veral daarvoor bekend dat hy die boeke van die Bybel* uit Hebreeus* en Grieks* in Latyn vertaal het. Hierdie vertaling, die Vulgaat*, is vir eeue as die amptelike Bybel in die Latynse Weste gebruik.

Hieronimus studeer van 360 tot 366 in Rome* onder die bekende grammatikus Aelius Donatus. In 366 word hy in Rome gedoop. Vir die volgende twintig jaar vervolmaak Hieronimus sy kennis van Grieks en Hebreeus. Hy brei sy teologiese* kennis uit en versterk dit deur sy vriendskappe met Gregorius* van Nazianus en Grego­rius* van Nyssa, asook Rufinus. Hy voer sy asketiese lewe tot ’n hoogtepunt en woon onder andere in ’n woestyn in Sirië. In 382 keer hy terug na Rome waar hy ’n groep Romeinse edelvroue in askese* onderrig, onder andere ook vir Paula, saam met wie hy in 386 in Betlehem ’n dubbele klooster* vir mans en vroue stig.

Onder sy belangrikste vertalings tel dié van Eusebius* van Sesarea se kerkhistoriese werke. Hieroni­mus skryf self ’n werk, Oor die lewe van uitstaande mense, wat grotendeels van Euse­bius afhanklik was. Hieronimus het ook heel­wat van Origenes* se preke vertaal. Hy het verskeie kommentare op Bybelboeke geskryf, waarvan sy kommentare op die klein profete* (393–406) en groot profete (407–419) die bekendste is.

 

Sidebar