HINDOEÏSME EN SENDINGWERK ONDER HINDOES

HINDOEÏSME EN SENDINGWERK ONDER HINDOES. Suid-Afrika se Indiërbevolking is oorheersend Hindoes. Die term “Hindoe” is afgelei van die San­skri­twoord sindhu of Indus (“oseaan” of “ri­vier”), wat ’n geografiese eerder as ’n teolo­gie­se aanwyser is. Teen 1000 vC het ’n same­voeging van oortuigings ontwikkel uit die uiterse politeïsme* (veelgodedom) wat die Hindoeïsme kenmerk.

Toe die eerste Indiërs in 1860 in Suid-Afrika aangekom het, het die Hindoes hulle godebeelde saamgebring, hulle tempels gebou waarin hulle kon aanbid en hulle tradisies en gebruike voortgesit. Hulle kan verdeel word in twee groepe: ortodoks en onorto­doks. Laasgenoemde, soos die Divine Life Society, Hare Krisjnas*, Rama Krisjnas en Sai Baba-beweging, is verlig en meer filo­sofies georiënteer, en konsentreer op die Vedantas. Die ortodokses voer ’n verskeidenheid tantriese poojas uit.

Die Metodiste*, Anglikane* en Kato­lie­ke* het lank voor ander denominasies sen­ding*werk onder Hindoes gedoen. Die British Methodist Conference het bv al in 1861 die predikant R Scott ge­stuur om die evangelie* van Jesus* Christus* onder die Indiërs te verkondig. Hy het die Indian Methodist Mission, asook die eerste skool vir Indiërkinders, in 1862 gestig. Teen 1886 was die Katolieke* besig om kerke en skole op te rig, en die Anglikane het die St Aidan’s Church in 1884 ge­stig. Hierdie vroeë pogings het daarin ge­slaag om hierdie kerkgroepe in die Indiër­ge­meenskap te vestig, hoofsaaklik met be­keer­des uit die Hindoeïsme*.

Van alle denominasies het die Pinkster-* en onafhanklike* kerke die grootste sukses behaal om Hindoes na die Christendom* te bekeer. Dit is omdat Indiërs van nature graag emosioneel betrokke wil wees by die aanbidding en die kerklike lewe. Om doeltreffend teenoor Hindoes te getuig, sal Christene ’n soort leefstyl moet ontwikkel wat Hindoes na geloof in Christus sal aan­trek. Weens die feit dat Hindoeïsme uni­verseel van aard is, moet klem gelê word op die uniekheid van Christus as Verlosser van die hele wêreld.

Vir verdere lees: HL Pretorius, AA Oden­daal, PJ Robinson en G van der Merwe 1996. Reflecting on Mission in the African Context. Bloemfontein: Pro Christo. PGJ Meiring 2004. “Truth and reconciliation in South Africa: Hindu experiences and concerns” in: HTS 60(4) 1383-1398.                  

Sidebar