HINDOEÏSME

HINDOEÏSME het drie en dertig miljoen gode om van te kies. Die naam “Hindoe” – net soos die woord “Indiër” – is afgelei van ’n woord in Sanskrit: Sindhu, die naam van die groot rivier in Noord-Indië wat die Grieke en Romeine die Indusrivier genoem het.

Hindoeïsme is baie oud, maar dit het nie ’n stigter nie, geen profeet nie, geen belydenisskrif of vaste kultus nie, met heilige boeke wat baie eeue na mekaar ontstaan het, waarvan party dikwels gelees word en ander amper nooit. Hindoeïsme “is veel meer ’n uitdrukking van ons kultuur as ’n belydenis van ons geloof,” het ’n gewese president van Indië, Radakrishnan, ver­klaar. Soveel Indiërs as wat daar in Indië en die res van die wêreld is, so wyduiteenlopend en verskillend is die godsdiens van die Hindoes.

Geskrifte. Die oudste en heiligste ge­skrifte van die Hindoeïsme is die Vedas, wat tussen 1500 en 800 vC ontstaan het. By die Vedas is deur die loop van jare verskillende Vediese verhandelings gevoeg, waarvan die Brahmanas en die Oepanisjads die belang­rikste is. Van al die geskrifte is die Bhaga­-vad Gita die gewildste en mees gelese ge­skrif.

Gode. Dit is wel so dat daar letterlik mil­joene godfigure bestaan. Feitlik elke rivier­tjie en bos en elke plaaslike natuurverskyn­sel word as god vereer. Tog het daar deur die loop van die eeue in die klassieke Hin­doeïsme ’n paar belangrike opperfigure na vore gekom. Boaan die rangorde staan die veraf, verhewe figuur van Brahma, die al­om­teenwoordige, almagtige heerser wat alles gemaak het en alles omvat. Alle ander godefigure is in wese niks anders nie as be­paalde vorms van Brahma. Die volgende in die hiërargie is die Trimurti (die sogenaamde Hindoe-drie-eenheid) wat uit Brah­ma, Visjnoe en Sjiwa bestaan.

Brahma is die skeppergod. Hy word dikwels uitgebeeld met vier gesigte (wat die vier windrigtings aandui) en met vier pare arms (waarin hy die vier Vedas vashou). Hy ry baiekeer op ’n swaan of sit op ’n lotusblom. Dis ’n simbool van die feit dat hy van homself af kom en nie gebore of voortgebring is nie. Brahma het ’n vroulike metgesel, Sarasvati, die godin van die riviere, waarheid en kennis. Visjnoe is die groot bewaarder, die goeie, hulpvaardige god. Hy is waarskynlik die mees invloedryke figuur in die Hindoe-godegalery. Elke keer wanneer chaos dreig om die wêreld te oorweldig, het Visjnoe ingegryp. Hy word as die verteenwoordiger van die goddelike liefde beskou, dikwels in die geselskap van Laksmi, sy vroulike eweknie, godin van skoonheid en geluk. Van Visjnoe word geglo dat hy tien avataras (inkarnasies) beleef het. Hy het in verskillende vorms in die lewe van besondere persone na die aarde teruggekeer. Die bekendste van sy avataras was die agtste, toe hy as Krisjna (wat soms deur Hindoes met Christus* vereenselwig word) verskyn het, en die negende toe hy as Boeddha* sy verskyning gemaak het. Sjiwa, die derde lid van die Trimurti, is tegelyk die groot verwoester én die groot vernuwer. Aan die een kant is hy die Verskriklike, voor wie almal beef, maar aan die ander kant is hy die Sagte wat al die geheime van die kosmos in hom omdra. In hom ontmoet al die teenstrydighede en teenstellings van die lewe mekaar. Sy vroulike metgesel is Kali, wat net soos Sjiwa, die godin van verwoesting en vernuwing is. Soms word sy afgebeeld met ’n krans van skedels en ’n romp van die afgekapte hande van haar slagoffers; ander kere weer as die “groot moeder”, die simbool van rus en vrede.

Behalwe die bogenoemde gode – en nog vele ander – ken die Hindoeïsme ook die sogenaamde dieregode, wat entoesiasties aanbid word: Hanuman, die aap, wat as die god van geleerdheid beskou word. Dan is daar Ganesja met die olifantkop en slurp, die “heer van die leërskare,” die vernietiger van weerstand, wat alle hindernisse vir sy vriende uit die weg ruim. Bome en plante word ook as heilig beskou, soos ook berge en riviere (bo alles die Gangesrivier).

Geloof. Die ou Hindoes het eeue gelede bemerk dat alles wat op aarde geskep is, uiteindelik wegslyt en vergaan – selfs rotse en berge. Hulle het ook gemerk dat die lewe elke keer in ’n nuwe vorm terugkeer: ’n eiertjie word ’n wurm, die wurm ’n larwe, die larwe ’n skoenlapper en die skoenlapper lê weer eiertjies. So gaan die sirkelgang van die lewe vir ewig voort: geen lewende wese, plant of dier of mens kan daaraan ontsnap nie. Jy is gedoem tot die ewige lewe! En om te lewe is om te ly, om swaar te kry. Die beste wat met jou kan gebeur, is dat jy in ’n volgende inkarnasie in ’n beter gedaante gebore word, maar dit kan ook andersom wees. Alles wat jy doen en sê, jou hele lewe, al jou dade (karma) bepaal waar jy jou volgende gaan bevind. Verlossing (moksja) beteken dat jy van die ewige kringloop van die lewe bevry word. Soos ’n slang van sy ou vel verlos word, moet die atman (siel) aan die lewe ontsnap en in die hemelse nirvana* opgaan. Dis die ewige niks, waar die siel ophou om te be­staan en soos ’n druppel water in die ose­aan terugval. Dan keer jy terug na die oerbron van alle lewe, die Brahma self.

Daar is verskillende maniere waarop ’n mens die pad van dharma (regverdigheid) kan loop. Jy kan besluit om ’n goeie lewe te lei, om voortdurend die regte besluite te neem, om teen die bose te stry. Ander Hindoes verkies die pad van geestelike dissipline, of die weg van kennis, of van joga, of van die onderwerping van natuurlike behoeftes en begeertes.

Godsdienstige feeste en seremonies speel ’n belangrike rol in die lewe van elke Hindoe. Sommige feeste vind tuis plaas, soos met Deepavali (Devali), wanneer die oorwinning van die Lig oor die Duisternis gevier word. Spesiale kleilampies word oral in die huis aan die brand gesteek en presente en nuwe klere word onder mekaar uitgedeel. Die fees vind teen die einde van die jaar plaas – geen wonder dat dit dikwels die Hindoe-Kersfees genoem word nie. Net so belangrik is die fees van Kawadie, êrens tussen Januarie en Mei. Dis wanneer Hindoes groot optogte hou en duisende na hulle tempels beweeg om offers te bring, om geloftes te betaal, om musiek te maak en om deel te neem (of toeskouer te wees). Dis ook wanneer die jaarlikse vuurloop-se­remonie plaasvind. Vir nie-Hindoes is die skouspel van die kawadie-fees verstommend: optogte, blomme, Hindoes wat in ’n toestand van beswyming met hake deur hulle liggame gesteek, en heilige waens propvol vrugte gelaai, na die tempel trek; mans wat oor meters vurige kole loop, skynbaar sonder enige letsels aan hulle voete …

Die heilige koei word nie as ’n god be­skou nie, maar vereer as die eerste lewende wese, die mees verhewe in die skepping, van wie beide gode en mense afhanklik is vir hulle bestaan. Die koei word geëer weens haar veelvuldige deugde – melk, dikmelk, botter, kalwers, mis en urine. Geen medisyne is so effektief om vergifnis van sonde en genesing te bewerkstellig as ’n mengsel van haar melk, dikmelk, vloeibare botter, mis en urine wat die sieke of berouvolle sondaar drink nie.

Daar is ongeveer 960 miljoen Hindoes in die wêreld (14% van die wêreldbevolking) (vgl Operation World, 2010).

 

Sidebar