HINWOOD, EDWARD VICTOR (BON­A­VENTURE)

HINWOOD, EDWARD VICTOR (BON­A­VENTURE) (1930–2015) het in 1955 lid van die Fransikaan­se Orde (OFM: Or­der Fratrum Mino­rum oftewel Minde­re Broe­derorde) ge­word. Ná studie in Ierland en Rome keer hy terug na Suid-Afrika. Hy word ’n bekende in Suid-Afrika vanweë ge­reelde TV-optredes. Tot 1998 was hy be­trokke by priesteropleiding aan die St John Vianney-Katolieke Seminarium in Water­kloof, Pretoria. Sedert 1964 het hy verskeie teologiese boeke gepubliseer, en dig mettertyd in Afrikaans*. Hy debuteer as digter met Smeulvuur (1981) onder die skuilnaam Hewitt Visser, en publiseer daarna nog drie digbundels onder sy eie naam: Sonvis (1989), Soenoffer (1991) en Serafyn (2004) – religieuse gedigte waarvan die beelding meestal die vertrekpunt vir metafisiese (bo-sinnelike; wat nie vir menslike sintuie waarneembaar is nie; geestelike) duiding is. Hy voltooi in 1993 ’n oorspronklike Afrikaanse verwerking van die Psalms en lofgesange vir liturgiese gebruik in die Katolieke Kerk*. Van 2000 tot 2006 is hy priester*2 en herder van die Katolieke gemeente in Waterkloof.

Hy het hom ook besig gehou met die vertaling uit die oorspronklike Italiaans in Afrikaans van die 2004-Kompendium van die Kate­gismus van die Katolieke Kerk. Hinwood was later direkteur en akademiese dekaan by die Studium Philosophicum, waar studente van verskillende ordes* in die filosofie onderrig word, en het meegewerk aan die gedrukte Christelike Kernensiklopedie (CKE).

Sidebar