HIPPOLITUS

HIPPOLITUS (circa 170–236) was ’n vooraanstaande teoloog in Rome*, maar hy het hom laat ompraat om in die destydse kerkstryd as “anti-pous” verkies te word. Hy was ook die laaste teoloog wat in die Weste in Grieks* geskryf het.

Die belangrikste werk wat aan Hippoli­tus toegesê word, is sy Weerlegging van alle ketterye. Hieruit kan die aard van die vroegste Christelike “ketterye” in die Griek­se denkskole afgelei word. Nog ’n werk van hom is die Apostoliese tradisie wat belang­rike inligting bevat oor die liturgiese* ge­bruike en bedienings van die Vroeë Kerk* in Rome. ’n Verdere werk, sy Kommentaar op Daniël, is die oudste Bybelkommentaar wat in sy geheel behoue gebly het.

Twee kenmerke staan uit in Hippolitus se werk. Die eerste is sy Logos-teologie. Hierin volg hy Justinus die Martelaar* en Irenaeus* na. Hy leer dat die Logos in twee toestande bestaan: die een is ewig en im­ma­nent, die ander tydelik en ekstern. Op grond hiervan is hy van teïsme* beskuldig, dit is, dat hy twee gode verkondig. Hippo­litus se werk word tweedens gekenmerk deur ’n vurige rigorisme (strengheid by die toepassing van beginsels). Hy het dit veral gehad teen heidene* wat maklik in groot getalle tot die Christendom* sou toetree.

Sidebar